Pa stuur glo boodskap: ‘Ek bring nie jou kind terug nie’

Deel hierdie storie / Share this story

Die 28-jarige Annamarie Gouws is rasend van bekommernis ná haar vierjarige seuntjie spoorloos saam met sy pa verdwyn het.

Gouws, wat in 2019 van Adrian Muller geskei het, sê alles het goed verloop elke naweek wat haar seuntjie, Micha-EL, by sy pa gaan kuier het. Min het sy geweet dat haar seuntjie tydens sy laaste naweekkuier spoorloos saam met sy pa sou verdwyn.

WhatsApp-boodskap

“Hy is op 23 April na sy pa toe. Sy pa moes hom op 25 April aan my terugbesorg, maar presies 17:09 kry ek ‘n WhatsApp-boodskap wat sê hy sal nie weer my kind vir my teruggee nie.”

In dié stemboodskap het Adrian glo vir Annamarie gesê dat hy nou by die ZAR Boervolk aangesluit het en dat hy nie meer Suid-Afrika se wette hoef te gehoorsaam nie.

Vrydag al weg

Annamarie vertel hoe sy inderhaas dié Sondagaand van Witbank, waar sy woon, na Adrian se adres in Alberton is om haar seun te gaan haal. “Toe ons daar aankom, het sy tannie gesê hulle twee is Vrydag al sak en pak daar weg. Adrian het glo vir haar gesê dat hulle met twee weke op vakansie gaan en dat alles gereël is met die prokureurs en welsynwerkers.”

Annamarie sê sy het dadelik Adrian se prokureur gebel en gevra of hy enigiets van die reëling weet. “Hy het ook gesê hy weet van niks, maar dat hy sal probeer om Adrian in die hande te kry.”

Saak van minagting van die hof

Sy vertel hoe sy die volgende dag reeds ‘n saak van minagting van die hof teen Adrian oopgemaak het. Sy het intussen hulp gekry van die forensiese span by die polisie. Sy is ook in kontak met Pixie Pink – Victim Advocate, en privaatspeurders help haar ook om haar seun weer op te spoor.

Annamarie sê haar seuntjie se ouma is ook by die voorval betrokke en haar én Adrian se selfone is afgeskakel.

Vermoedelik in die Kaap

“Ons het ‘n vermoede dat hulle in die Kaap se rigting beweeg het. Daar is te veel mense ander kant toe wat hom ken.”

Oor of sy bang is dat Adrian haar seuntjie dalk sal seermaak, sê Annamarie: “Die hooggeregshof se verslag sê duidelik dat Adrian vir sielkundige behandeling moet gaan. Ek het destyds ook van hom geskei omdat hy my toe ek swanger was, seergemaak het. So ja, hy is onstabiel, ek is onseker wat hy als kan doen.”

In ‘n regstreekse onderhoud wat Annamarie met Pixie Pink gehad het, sê sy: “Al wat ek vir Suid-Afrika wil vra, is, asseblief help my om my seun terug te kry by my, waar hy hoort. Hy is veilig by sy mamma. Ek vra dat almal my asseblief sal help om ‘n vierjarige seuntjie weer terug by sy boetie te kry.”