Felidae praat oor nuwe wetgewing oor leeus

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het die verslag wat handel oor die beleid, maatreëls, gebruike en beleidsposisies oor jag, handel, aanhouding, bestuur en hantering van olifante, luiperds, leeus en renosters bekendgestel.

Creecy sê die paneel het bevind die bedryf hou gevare in vir leeus in gevangenskap asook die volhoubaarheid van die bewaring van leeus. Dit het glo ‘n negatiewe invloed op ekotoerisme.

Nog een van die paneel se aanbevelings is dat die leeus wat reeds aangehou word, van kant gemaak word.

Felidae, ‘n reddings- en rehabilitasiesentrum wat alle Suid-Afrikaanse diere, veral predatore, red en ‘n veilige tuiste bied, gesels met FiND iT oor hoe dié nuwe wetgewing hulle raak.

Chriszanne Burger en haar broer, Nicol Burger, het die projek begin.

“Ons het tans 17 leeus, waarvan een ‘n wit leeu en sestien gewone leeus is,” vertel Chriszanne. “Ons leeus sal nie geskuif word nie en sal deel van ons projek bly.”

Chriszanne sê hulle sal deel bly van die projek omdat al hulle leeus gered is en daar nie met hulle geteel of hulle nie verkoop word nie. “Ons projek is teen die jag van predatore in aanhouding en ons neem slegs diere in wat gered moet word en nie meer gerehabiliteer kan word nie.”

Verder vertel Chrizsanne dat hulle projek nie veel deur die wetgewing geraak word nie, maar dat hulle wel ‘n knou weg het weens Covid-19.