Maddie se ouers nog hoopvol na 14 jaar

Maddie se ouers het tot vandag toe nog nie hoop laat vaar nie en vertrou steeds dat sy nog leef.

Maddie se ouers nog hoopvol na 14 jaar (Foto: Daily Express)

Maddie se ouers nog hoopvol na 14 jaar (Foto: Daily Express)

BRITTANJE. – Maddie, die Britse meisie wat in 2007 ontvoer is, se ouers bly hoopvol 14 jaar na haar verdwyning.

Die ganse wêreld was geskok na die raaiselagtige verdwyning van die 3-jarige Madeleine.

Kate en Gerry McCann, Maddie se ouers, het haar en haar tweelingsussies op 3 Mei 2007 in hul vakansiewoonstel in Praia da Luz in die Algarve-distrik in Portugal, waar die gesin vakansie gehou het, gelos terwyl hulle by ’n eetplek was. Daar is by die woonstel ingebreek en sy is ontvoer.

Haar verdwyningsaak is die afgelope 14 jaar heropen en weer toegemaak, elke keer met nuwe inligting wat dan weer doodloop. Maddie se ouers het tot vandag toe nog nie hoop laat vaar nie en vertrou steeds dat sy nog leef.

In ‘n boodskap wat haar ouers die week voor haar agtiende verjaardag uitgestuur het, sê Madeleine se ouers hulle “hou vas aan die hoop, maak nie saak hoe klein dit is nie”.

Hulle sou op 12 Mei Madeleine se verjaardag vier.

Duitse polisie het onlangs ’n nuwe verdagte, die veroordeelde kindermishandelaar Christian Brueckner, met Maddie se verdwying verbind.

Lees ook: Nuwe verdagte en Maddie is dood, sê nuutste verwikkelinge

Brueckner is reeds aan ses seksmisdade met kinders skuldig bevind en is nou ’n verdagte in meer as een verdwyningsaak.

Die Duitse staatsaanklaer het verlede jaar gesê hy glo Maddie is dood en Brueckner is die vermeende moordenaar. Maddie se ouers was selfs in ‘n stadium verdagtes in die ondersoek.

Die egpaar sê ook hulle is dankbaar vir al die ondersteuning wat hulle deur die jare ontvang het.

“Soos wat ons al herhaaldelik gesê het: Ons moet weet wat met ons lieflingdogter gebeur het, maak nie saak wat nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *