Ma en seun se nagmerrie na blou ligte met sirenes hulle aftrek

Hulle is deur ‘n voertuig met blou ligte en sirenes afgetrek.

Ma en seun se nagmerrie na blou ligte met sirenes hulle aftrek

Ma en seun se nagmerrie na blou ligte met sirenes hulle aftrek Foto: Facebook

KEMPTONPARK. – ‘n Ma en haar seun (16) was Vrydagaand 30 April  in ‘n nagmerrie gedompel.

“So vinnig, dis nou nog so onwerklik. Maar die belangrikste is, ons is hier. Ons is lewendig en ek is hier om my storie te vertel.”

Gerda Toms het haar storie met FiNDiT gedeel, nadat sy en haar seun deur ‘n voertuig met blou ligte en sirenes afgetrek is.

Ma en seun se nagmerrie toe hulle blou uniform sien

“Ek het my seun laat Vrydagmiddag gaan oplaai by Loskopdam. Hy het aan Suid Afrikaanse kunsaashengelproewe deelgeneem. Ek het met die Land Cruiser gery, want ons moes al sy kampgoed en visvanggoed in die motor laai. Ons het om 18:00 van daar af gery en ongeveer so 19:00  op die N4 geklim. Ons ry Kempton toe, so ons neem die N12-afdraai. Ons was pas by die Total-vulstasie verby toe daar blou ligte agter my is en sirenes wat afgaan.”

“As ek reg onthou, was dit ‘n wit 3 reeks BMW. Hy het my van die pad af gedruk. Ek is ‘n pligsgetroue burger, so ek het afgetrek. Ek het in my spieëltjie gekyk en hy het aangestap gekom, met ‘n blou uniform aan.”

Hulle het verskeie vrae gevra

“Ek het my venster net ‘n klein stukkie oopgemaak. Hy het gevra vir my lisensie en waarvandaan kom ons en waar gaan ons. Hy het gevra wie die passasier is. Toe vra hy wat is in die motor en lig met sy flitslig in die motor in en sê ek moet die deure oopsluit, hy wil kyk wat is daar. Weereens, ek wil nie moeilikheid maak nie, toe sluit ek die deure oop. Die oomblik toe ek die knoppie druk, toe ruk al twee die deure aan ek en my seun se kant oop,

“Die beweerde motorkapers in uniform het bo-op ek en my seun gespring. Die een wat agter oopgemaak het, het als op die agtersitplek net daar langs die pad uitgegooi. Hulle het ons deur die gaping tussen die voorste en agterste sitplekke deurgeforseer. My seun het in die middel gelê, nog met die veiligheidsgordel om hom. Hulle het my hande agter my rug vasgemaak en my seun s’n voor op sy bors.”

Hulle het my en my seun se oë toegemaak

“Hulle het ons oë toegemaak en ons afgedruk op die sitplek met ‘n kussing. Ons was so benoud. Ek het so restraint gevoel met my hande vas, dat ek skelm my hande uit die cable ties uit forseer het. Ek het my hande baie stadig beweeg tot onder my bors en met my vingers aan my seun geraak om hom te probeer gerusstel.”

“Ek het ook probeer voel met my hand of hy kan asem kry. Hulle het vir ‘n uur met ons rondgery en in daai tyd al ons fone en kaarte se pins en passwords gevra. My man was in Namibië en dogter (14) was tuis. Sy moes elke uur incheck met ‘n WhatsApp en ek het haar gebel teen omtrent so 19:30 en gesê sy kan so 20:00 ons kos warm maak.

“Ek het gedink dis gewere.”

“Die voorval het ongeveer 19:40 gebeur. My dogter het erg begin bel net na 20:00. Die mans het die oproepe geïgnoreer. Hulle het op ‘n tyd gestop en ‘n ander persoon met ‘n sak het langs my seun ingeklim. Die sak het geraas en ek het gedink daar is gewere in.

“Ek kon voel ons ry in ‘n veld in. Ver. Hulle het gestop en my uitgevra oor die tracker-sisteem en toe gesê ons moet stil lê.

“We will take you out now.”

Hulle was vir omtrent 40 minute besig en het toe my deur oopgemaak en gesê: “We will take you out now”. Ek’t gedink take out soos in skiet of take out soos uit die motor laat uitklim. Ek het my hande styf op Josh se bors gesit en gesê ek’s baie lief vir hom. Gesê hy moet asseblief sy oë toemaak. As hulle iets aan my doen, wil ek nie hê hy moet dit sien nie. Hulle het my uitgehaal en my in die veld laat sit. Ek het dadelik gevra waar is my seun. Hulle het lank gevat om te antwoord. Hy het na die tyd vir my gesê hulle het die mes teen sy keel gesit en gesê: “We will shoot you”.

“Ek was heeltyd bang hulle ry weg met hom. Toe ek uitklim, het ek gehoor hoe hy sê hy kan nie uitklim nie, want die veiligheidsgordel is nog vas. Toe hy uitklim, het hy sy oë toegehou en ek het hom met my stem gelei tot waar ek was. Voor die mans  in die motor klim, het die een na my toe gekom en gesê daar is twee nommers wat aanhoudend op my foon bel. Hy het dat ek dit antwoord, maar gedreig as ek iets sê, sal hy my skiet.

My seun was ongelooflik kalm

“Ek’t met my dogter en my man gepraat en gesê ons is oukei en sit in verkeer. Die mans het daarna gesê ons moet net daar sit vir 10 minute en dan kan ons begin loop. Toe hulle uit ons sig was, het ons begin beweeg na waar ons motors gehoor het.

“Van daar het ons ‘n teerpad gekry en in die rigting van ligte geloop. Ons was binne 30 minute by ‘n klein kompleks. ‘n Polisievoertuig (waaroor ek baie skepties was op daai oomblik) het aangery gekom en ek het hom gestop en vertel wat gebeur het. Hy het laat ek my man en dogter bel. Ons is daarna na die polisiestasie in Boksburg geneem. Ons was twee ure daar en iemand het ons kom oplaai en huis toe geneem. My seun was ongelooflik, so kalm. Hy het die heeltyd gesê: “We will do what you want, we will cooperate. “

Motoriste moenie stop nie

Toms vertel verder hulle was vandag by die polisie op Delmas. Volgens die polisie gaan hulle die selfone wat die mans by hulle gevat het, probeer opspoor. “Die situasie is baie moeilik. Hulle het tot die tracker uit ons motor gehaal voor hulle daarmee weggejaag het.”

Sy sê die polisie beveel glad nie aan dat mense in motors op die N12 of N3 stop nie omdat daar soveel kapings op hierdie hoofpaaie plaasvind.

Die beweerde kapers is nog nie opgespoor nie en die voeruig is ook nog nie gevind nie.

LEES OOK: Indonesiese firma was en verkoop glo gebruikte Covid-neustoetsstelle

LEES OOK: Man glo ontvoer, aan die brand gesteek, verwurg oor beweerde liefdesdriehoek

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: