*Foto in die berig kan sensitiewe lesers ontstel
BLOEMFONTEIN. – Die eienaar van ‘n 12 week oue Pit bull-kruising is die afgelope naweek van dieremishandeling aangekla na hy glo die hondjie se vel aan sy poot met kookwater afgebrand het.
Die Bloemfonteinse dierebeskermingsvereniging het ‘n besoek ontvang van ‘n 15-jarige seun wat hulle ingelig het dat sy buurman se Pitbull-hondjie ernstig beseer is.
Hond ernstig beseer
Toe die inspekteurs by die huis gaan ondersoek instel, het hulle gesien die hondjie se voorpoot is bloedrooi en opgeswel. “Ons kon vasstel dat die eienaar die hondjie (wat intussen Duke gedoop is) se vel aan sy voorpoot met kookwater afgehaal het. Ons kon sien hy het ernstig seergekry. Die hondjie kon skaars loop, en as hy probeer loop het, het hy vorentoe geval.”
Eienaar soek
Die DBV sê op Facebook dat hulle die vrou in die huis gevra het wie die hondjie se eienaar is. Die eienaar was nie tuis met die DBV se besoek aan die huis nie. Hulle is steeds op soek na hom.
Lees ook: Hondjie deur kinders gemartel, soos vullis weggegooi
“Toe ons die eienaar se ma vra hoekom haar seun so iets aan die hondjie sou doen, het sy gesê dat haar seun aan ‘n geestesversteuring ly, dat hy al baie erger dinge gedoen het en dat sy vir hom bang is.”
Sy het glo ook vir die DBV gesê dat hy veronderstel is om medikasie te neem, maar dat sy nie seker is of hy dit wel neem nie.
Die DBV het inligting oor die hond se eienaar ingesamel en ‘n saak van dieremishandeling teen hom gemaak. Die eienaar se bure sal hulle in kennis stel wanneer die eienaar, wat tans in Mpumalanga is, weer by die huis in Bloemfontein aankom.
Been moet geamputeer word
Duke is intussen by die huis verwyder en is in die sorg van die DBV. Die hond is na ‘n veearts geneem. Sy been moet weens infeksie geamputeer word.
Die DBV is tans besig om geld in te samel om vir die operasie, wat R8 500 kos. Klik hier vir meer inligting oor hoe jy ‘n donasie kan maak.




