‘n Belgiese boer, wat geïrriteerd was omdat die grenssteen tussen België en Frankryk in sy trekker se pad was, het onbewustelik so België vergroot. ‘n Plaaslike geskiedenis-entoesias het in ‘n bos gestap toe hy agterkom dat die steen wat die grens tussen België en Frankryk aandui, 2.29 m geskuif is.
Grens in 1819 afgemerk
Volgens BBC het die boer die grenssteen in die Franse gebied ingeskuif wat België dus vergroot het. Die grens tussen Frankryk en België strek oor 620 km. Dit is formeel ingestel ingevolge die Verdrag van Kortrijk, wat in 1820 onderteken is ná Napoleon se nederlaag by Waterloo. Die steen dateer uit 1819, toe die grens vir die eerste keer afgemerk is.
Die voorval het gelukkig nie ‘n oproer veroorsaak nie en beide partye het die humor daarin gesien.
Nie ‘n goeie idee nie
“Hy het België groter en Frankryk kleiner gemaak. Dit is nie ‘n goeie idee nie,” het David Lavaux, burgemeester van die Belgiese dorpie Erquelinnes,”gesê. “Dié soort skuif kan hoofpyne veroorsaak tussen private grondeienaars, wat nog te sê van buurstate.”
Boer moet steen terugskuif
Belgiese owerhede beplan om die boer te vra om die steen na die oorspronklike plek terug te skuif. As dit nie gebeur nie, kan die saak op die tafel van die Belgiese ministerie van buitelandse sake beland, wat dan ‘n Franco-Belgiese grenskommissie, wat sedert 1930 rustend is, moet ontbied.
Die boer kan ook krimineel aangekla word indien hy weier om die steen na sy oorspronklike plek toe te skuif.
Lees ook: Kyk, Australiese vrou sê sterkte aan SA’ners na brande op Tafelberg



