NOORD-KAAP. – KITOVU, ’n nie-winsgewende organisasie van Kimberley, wil die gesig van manlike skoonheidskompetisies verander. Die organisasie is deur Bruce Veldman, wat self aan menige skoonheidskompetisies deelgeneem het, en sy twee direkteure, Kimberly Muller en Dineo Mthimunye, gestig. Saam het hulle groot planne vir die toekoms.
Janine Nieklassen, ’n voormalige finalis van Me. Bachelorette 2020, sowel as Hyson Khumalo en Peter Visser is deel van die direksie.
LEES OOK: Ma hang glo baba oor stoel om drankie te geniet
Visie vir die toekoms
Die doel is om spesifiek in die Noord-Kaap met jong mans te werk deur hulle op te lei hoe om vroue te behandel. Ook sal gefokus word op hoe om hulself uit te druk sonder om enige vorm van geweld te gebruik. Die boodskap dat dit goed is dat mans huil en oor hul gevoelens en dinge wat pla, praat, sal aandag kry.
KITOVU beoog om:
- Die jeug van kennis van ondernemingsvernuf te voorsien.
- Ouer mans op aftrede voor te berei.
- Werklose jong mans van vaardighede en kennis, om eendag hul eie ondernemings te bestuur, te voorsien.
- Om ’n omgewing te skep waar die minderbevoorregte jeug kan leer sonder die las van finansiële uitgawes.
- Die jeug wat gehelp is, te verbind tot onderrig en hulp in die gemeenskap.
- Om fondse in te samel en bydraes te ontvang waar toepaslik om die projek te finansier.
- Om werk bekend te stel en te bevorder.
- Om jong mans te help om bankrekeninge oop te maak.
- Om jong mans te help om versekering uit te neem.
- Vergaderings, opleidingskursusse en geleenthede te reël.
- Saam met soortgelyke organisasies te werk, inligting te ruil en advies te deel, insluitend om vir feeste in te skryf.
- Enige wettige stappe te neem wat kan help om doelwitte te bereik.
- Fondse in te samel om vir die hoofdoelstelling te betaal.
- Die modelbedryf binne die provinsie, Noord-Kaap, te verbreed en na ander provinsies te vertak.
- Saam met maatskaplike ontwikkeling en ander organisasies te werk om jongmense te help met enige maatskaplike nadele wat hulle ervaar.
- Jong seuns op te lei oor die modelbedryf en hulle voor te berei om professionele modelle te wees wat tot rolmodelle lei.
“Met ons eerste projek Mr Face of Northern Cape hoop ons om die kompetisie in die provinsie na ’n nuwe vlak te neem. Ons gaan ook modelle in die Noord-Kaap wys hoe belangrik dit vir die samelewing is en dat dit as sodanig behandel moet word, sonder om ons fokus vir Kitovu, wat Birth African Warriors is, te verloor,” het Bruce Veldman gesê.



