Met die skoolvakansie wat reeds begin het, is ouers en kinders geneig om meer tyd in die malls deur te bring. Hier gee die polisie wenke hoe jy jou kinders tydens inkopies in die mall kan beskerm.
LEES OOK: Twee keer lewenslank vir familiemoord
Veiligheidswenke om kinders veilig te hou
- Praat met jou kinders voor ’n gesinsuitstappie. Maak ’n reël dat jy hulle altyd moet kan sien en dat hulle jou altyd moet kan sien.
- Gebruik die “twee groot treë” reël – jou kinders mag nooit meer as twee groot treë van jou af wees nie. Dit is ’n prettige en maklike manier vir jong kinders om te onthou om nie weg te dwaal nie.
- Leer jou kinders dat as hulle ooit van jou geskei word, hulle ’n “veilige vreemdeling” moet nader vir hulp. Enkele voorbeelde is ’n ma met kinders of ’n kassier by ’n winkel.
- Met ouer kinders moet jy vroegtydig op ’n ontmoetingsplek ooreenkom indien julle geskei word.
- Sê vir jou kinders om nooit die winkelsentrum of winkel te verlaat om na jou te gaan soek nie, maak nie saak wat iemand vir hulle sê nie. Herinner jou kinders daaraan dat jy hulle nooit sal agterlaat of die winkelsentrum sal verlaat sonder hulle nie.
- Trek jou kinders in helderkleurige klere aan om dit maklik te maak om hulle raak te sien.
- Neem altyd jou kinders saam met jou na die toilet toe.
- Kriminele teiken eerder kinders sonder toesig.
- Maak seker jou kinders ken jou selfoonnommer.
- Leer jou kinders ook dat iemand nie noodwendig haweloos hoef te lyk om hulle te teiken nie. Kinders het al saam met vreemdelinge gegaan net omdat hulle ordentlik aangetrek was en nie soos ’n bedreiging gelyk het nie. Leer jou kinders dat gevaar in enige vorm kan kom.



