Sosiale media kan in vandag se tyd amper nie vermy word nie. Daarom is dit belangrik om as ouer bewus te wees van kuberafknouery en ander gevare wat sosiale media kan inhou.
Wat is kuberafknouery?
Kuberafknouery is afknouery wat op digitale toestelle soos selfone, rekenaars en tablette plaasvind. Dit kan via SMS, teks en programme, of aanlyn op sosialemediaforums gebeur. Selfs speletjies waar mense inhoud kan sien en daaraan kan deelneem, word die teiken van die kuberboelie.
Mense wat ander sosialemediagebruikers wil afknou, maak meeste van die tyd gebruik van ‘n vals profiel. Op dié manier maak die persoon nie sy ware identiteit bekend nie. Kuberafknouery moet as ‘n misdaad erken word. Dié soort boeliegedrag neem by die dag toe omdat dié boelie agter ‘n skerm kan skuil en heeltemal anoniem kan wees.
Dit is uiters belangrik dat ouers en onderwysers kinders bewus maak van kuberafknouery. Kinders moet verstaan dit is ‘n vorm van boeliegedrag en moet dit onmiddellik by ‘n volwassene aanmeld as hulle daarvan bewus word.
Waarvoor moet jy nog op die uitkyk wees?
Teistering: Die herhaaldelike stuur van aanstootlike, onbeskofte en beledigende boodskappe.
Vernedering: Om inligting oor ander, wat neerhalend of onwaar is, op ‘n webblad te plaas en/of dit per e-pos of in boodskappe aan ander te stuur.
Flaming: Om aanlyn te “baklei” met elektroniese boodskappe wat kwaai en vulgêre taal bevat.
Nabootsing: Die “inbreek” by ‘n e-pos- of sosialenetwerkrekening om die persoon se aanlyn-identiteit te gebruik om kwaadwillige materiaal na of oor ander te stuur of te plaas.
Outing & trickery: Om iemand se geheime of inligting wat ‘n verleentheid kan wees, te deel, of om iemand te mislei om sodoende geheime te openbaar.
Teistering: Om herhaaldelik boodskappe wat dreigemente bevat, aan te stuur. Dié boodskappe kan ook baie intimiderend wees of jou kind se veiligheid bedreig.
LEES OOK: Energiedrankies – man moet nieroorplanting kry na vier ‘n dag
Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus



