Solidariteit het vandag ʼn lys van meer as 120 bekwame en bereidwillige ingenieurs aan Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, gestuur. Dit volg nadat dié minister vroeër vandeesweek die aankoms van 24 Kubaanse ingenieurs, om die waterkrisis binne Suid-Afrika aan te spreek, verwelkom het.
Volgens Solidariteit bied hierdie plaaslike ingenieurs meer kundigheid teen ʼn laer koste as wat die invoer van die Kubaanse ingenieurs voorstel.
Solidariteit het uitgereik na minister
“Ons het uitgereik na die minister met ʼn lys van sommige van die land se mees ervare en kundige spesialiste in ingenieurswese, waaronder sommiges meesters- en doktorsgrade behou en ander soveel as 42 jaar se ervaring bied. Hulle is almal oorgehaal en bereidwillig om dadelik aan die werk te spring,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Ons lys bevat verder spesialiste in verskeie velde van ingenieurswese en projekbestuur, maar indien die minister ander kundigheid benodig sal ons met die hulp van ons Ingenieursgilde daardie vaardighede ook opspoor. Daar is net gewoon geen verskoning om nie ons eie intellektuele en praktiese hulpbronne te benut nie.”
Solidariteit voer verder aan dat dit onregverdigbaar is om te midde die werkloosheidkrisis, waarin Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers tans op bykans 33% staan, buitelandse werkers in te voer wanneer selfs beter opsies plaaslik beskikbaar is.
Hulle bring die ingenieurs
“Dit is ʼn skande dat die regering sélf nie die president se wekroep vroeër vanjaar om plaaslike werknemers en ondernemings te ondersteun ernstig opneem nie. As die minister werklik nie plaaslike werkers kon kry wat die werk wou doen nie, dan het sy nie baie hard gesoek nie. So ons bring dan maar die ingenieurs na haar,” stel Hermann.
Volgens Solidariteit het die regering ʼn bitter slegte geskiedenis met betrekking tot die verkwisting en wanbesteding van belastinggeld en dit vererger sake nog meer wanneer die regering belasting doelbewus aan buitelandse werknemers, met twyfelagtige kundigheid bestee.
Belastingbetalers is keelvol
“Belastingbetalers is alreeds keelvol om bykans daagliks te sien en te hoor hoe hul belasting vermors word. Ons kan nie boonop nog toelaat dat die plundering van hierdie gelde nou ʼn internasionale kleur aanneem nie,” verduidelik Hermann. “Die minister se besluit is onaanvaarbaar en kan nie daar gelaat word nie. Ons boodskap is duidelik: Hier is die voorste kenners in die land. Hulle steek hulle hande op. Hulle wíl werk. Die onus rus nou op die regering. Verduidelik u nou vir ons, vir hulle én vir die belastingbetaler hoekom plaaslik nie meer goed genoeg is nie,” het Hermann afgesluit.
LEES OOK: ‘Infrastruktuurprobleme by Hoërskool Homevale, moontlik lewensbedreigend’
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



