‘Infrastruktuurprobleme by Hoërskool Homevale, moontlik lewensbedreigend’

Deel hierdie storie / Share this story

Infrastruktuurprobleme by die Hoërskool Homevale in Kimberley, wat moontlik lewensbedreigend is, moet dringend aangespreek word. Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap dring dus daarop aan dat die LUR vir Onderwys, Zonakile Monakali, ‘n onmiddellike vergadering met belanghebbendes moet belê om hierdie kwessies op te los.

Dit is volgens Delmaine Christians, DA-lid van die NRVP se onderwyskomitee.

Infrastruktuurprobleme laat gebou uitmekaar val

Christians sê verser sy het vroeër dié week aan die LUR vir Onderwys geskryf om sy ingryping te versoek. Een van vele uitdagings by die skool is die feit dat die gebou letterlik uitmekaar val. Onderrig is nie in hierdie omgewing moontlik nie.

“Die erns van infrastruktuurprobleme kan gesien word in die steierwerk wat ‘n wandelgang tussen klaskamers op die boonste vloer steun. Hierdie steierwerk is reeds vanaf 2019 in plek. Dit is nie struktureel veilig nie en skep ‘n werklike gevaar vir die skoolgemeenskap.

Ouers is bang

“Soos sake nou staan, kan die skool nie belangrike projekte soos die herfsskool bekostig nie. As dit nie kritieke inhaalprogramme kan bekostig nie, waar gaan die geld vandaan kom om hierdie gevaar aan te spreek?

“Ouers is bang dat die wandelgang ineen kan stort, soos wat twee jaar gelede by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark gebeur het. Mens sou aanneem dat die LUR als in sy vermoë sou doen om soortgelyke lewensverlies by Noord-Kaapse skole te voorkom. Maar tot dusver is daar net passiewe swye van sy kantoor.

Waterpype lek ook

“Die department kyk ook anderpad wat stukkende vensters en lekkende waterpype betref.

“As hy voortgaan om sy plig te versuim, sal ons hierdie kwessies na die nasionale departement vir permanente oplossing moet verwys.”

LEES OOK: Minibustaxi tref kind (10) voor skool

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.