BETHAL. – Twee polisiebeamptes, sers. Itumeleng Motalane (39) en konst. Tilane Lebitsa (29) het Maandag ‘n vrou by die hek van die Bethal-polisiestasie bygestaan toe sy geboorte gegee het.
‘n Lid van die gemeenskap het die hoogswanger vrou naby die polisiestasie opgemerk en die polisiebeamptes in kennis gestel.
Sers. Motalane en haar manskollegas het hul na buite gehaas en besef die vrou is op die punt om geboorte te gee.
Die twee beamptes het die vrou toe bygestaan om haar babaseuntjie die wêreld in te bring.
Sers. Motalane vertel van die ervaring.
“Dit was 18:00 en ek het net ingeklok vir nagskof toe iemand ons in kennis gestel het van die insident. My manskollegas het vir my gesê ek is die enigste een wat die vrou nou sal kan help. My enigste vrees was dat ek nog nooit met so ‘n ding gekonfronteer is nie, aangesien al vier my vorige kinders by die hospitaal gebore is.”
Motalane sê sy moes vir haarself sê om haar vrees te oorkom en die situasie te red.
“Na die vrou geboorte gegee het, was sy baie koud en bewerig. Konst. Lebitsa het ‘n kombers uit haar kamer gaan haal.”
Verder vertel Motalane sy was so deurmekaar dat sy eers nie die babatjie kon hoor huil nie.
“Eers toe my kollegas van blydskap gegil het oor die baba lewe, het ek besef die baba skree. Een van die ander uitdagings wat ek in die oë moes staar, was die naelstring. Ek het op my selfoon op Google gesoek vir inligting oor hoe om dit te knip, en ek het ‘n skoenveter gekry om dit mee af te bind.”
Motalane sê hulle het die ma en haar baba toe met ‘n kollega se bakkie na die hospitaal geneem.



