Is jy lus vir ‘n koffietert? Hier is ‘n vinnige resep!
Smelt 30 ml margarien of botter. Maak 15 ml kitskoffiepoeier met 60 ml kookwater aan en voeg 60 ml melk by. Verroom dan 250 ml suiker en 4 eiers. Voeg volgende die koffie en margarien of botter by die eier-en-suikermengsel.
Sif 375 ml gesifte koekmeel, 1 ml sout en 10 ml bakpoeier saam en meng goed met bostaande bestanddele. Roer laastens 5 ml vanieljegeursel by. Skep die mengsel in ‘n gesmeerde tertbak en bak dit vir 30 min op 180°C.
Kook die volgende vir 5 min. saam:
375 ml kookwater
50 ml brandewyn
175 ml suiker
25 ml koffiepoeier
5 ml vanieljegeursel
Giet dit oor die tert sodra dit uit die oond kom.
Laat heeltemal afkoel en smeer ‘n blik kondensmelk oor. Klop dan room styf (jy kan karamel kitspoeding met die room meng) en smeer oor die kondensmelk.
Strooi ‘n Flake-sjokolade bo-oor en siedaar.
Resep: Joyce Geers-Minnaar



