PRETORIA. – Die liggaam van die eienaar van ‘n bekende eiendomsagentskap en twee liggame van twee eiendomsagente is Saterdagoggend onder raaiselagtige omstandighede in ‘n spoghuis in Menlopark gevind.
Die oorledenes is die 60-jarige Theo Kleynhans, die 23-jarige Mario Pretorius en die 30-jarige Chariska Kloppers. Buiten die drie was daar nog ‘n tweede vrou, wat tans kritiek in die hospitaal is.
Familielede kontak Mike Bolhuis
Familielede van die oorledenes het Mike Bolhuis gekontak om met die ondersoek te help en vas te stel presies wat daardie nag gebeur het.
In ‘n onderhoud met PretoriaFM sê Bolhuis dis ongewoon dat daar soveel mense dood is.
Huis was bekend as kuierplek
Die vier was glo die aand uit vir drankies en het ná die kuier na die dubbelverdiepinghuis teruggekeer om verder te kuier. Die huis was bekend as ‘n kuierplek.
“Die lyke het nie enige tekens getoon dat hulle gebloei het of opgegooi het nie. Dit het gelyk asof hulle net daar aan die slaap is.”
Huis ‘vrot’ van die dwelms
Bolhuis sê die huis was “vrot” van die dwelms, drank en pille.
“Wat ‘n mens ook moet ondersoek, is of iemand die dwelms daar aangebring het en of dit ‘n eie konkoksie was. As iemand die dwelms daar aangebring het, kon dit miskien iemand wees wat ‘n ander wou vermoor.”
Volgens Bolhuis was daar ook kameras in elke vertrek van die huis en is dit iets wat geweldig met die ondersoek gaan help.
‘Dwelms nooit die antwoord nie’
“Die publiek moet ook leer hieruit. Dwelms is nooit die antwoord nie, dit kan jou dood beteken.”
Oor die tweede vrou wat tans nog in die hospitaal aansterk, sê Bolhuis dit sal nou afhang van haar immuniteitstelsel. “Dis ‘n baie rare situasie om te aanskou. Daar was geen geweld betrokke nie. Dit was asof ‘n mens die een oomblik staan en die volgende oomblik lê. Die partye het iets hier gebruik wat óf onmiddellik óf oor ‘n tydperk iemand uitgesit het.”



