Vermeende stroper deur olifant in Wildtuin doodgetrap

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA. – ‘n Vermeende stroper het die naweek aan sy beserings beswyk toe hy en nog twee verdagtes hulle in ‘n olifanttrop vasgehardloop het en hy doodgetrap is.

Isaac Phaahla, van SANParks se kommunikasie- en bemarkingsafdeling, het Sondag in ‘n verklaring gesê veldwagters het die spoor van drie mans wat die Krugerwildtuin betree het, gevolg. Veldwagters het die vermeende stropers agternagesit.

Die stropers het agtergekom hulle word agtervolg en het ‘n sak goedere en ‘n byl langs die pad neergegegooi om vinniger te kan wegkom.

Tweede vermeende stroper in hegtenis

In die verklaring sê SANParks een verdagte is later in hegtenis geneem. Hy het aan hulle gesê hulle drie het in ‘n trop olifante ingehardloop en hy weet nie of hulle sy makkers oorleef het nie.

Die veldwagters het in die rigting van die trop olifante gestap waar hulle een vertrapte man gevind het. Hy was reeds dood toe hulle daar aankom.

‘n Derde verdagte is nog op vrye voet. Die wildtuin doen ‘n beroep op die gemeenskap in die omgewing om inligting aan die polisie te gee wat kan lei tot die inhegtenisneming van die derde verdagte.

LEES OOK: Pa vergiftig sy twee kinders met rottegif

Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus.