PRETORIA. – Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die dood van Theo Kleynhans (60) en sy kollegas Mario Pretorius (23) en Chariska Kloppers (30), wie se liggame Saterdagoggend in Kleynhans se spoghuis in Menlopark gevind is.
Tweede vrou
’n Tweede vrou, wat bewusteloos by die huis gevind is, is deur Netcare 911-paramedici na die Unitas-hospitaal in Centurion gejaag. Sy is in ’n kritieke toestand en haar identiteit is nog onbekend.
Kleynhans en Pretorius is op die boonste verdieping van die dubbelverdiepinghuis gevind en Kloppers is op ’n stoel op die patio gevind. Die tweede vrou het langs Kloppers op die grond gelê.
Lees ook: SANW gereed om Tafelberg-brande tehelp bestry
Nog te vroeg
Kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, sê ’n saak is oopgemaak en dis nog te vroeg om te sê wat gebeur het.
Kleynhans was die besturende direkteur by The Property Management Company of SA.
Volgens ’n privaat speurder was die groepie Vrydag na werk by ’n restaurant vir ’n paar drankies. Hulle het daarna na Kleynhans se huis gegaan en daar verder partytjie gehou.
Drank, pille en dwelms
Werner Koekemoer, privaat speurder, het gesê ’n groot hoeveelheid drank, pille en dwelms, onder andere tik, is in die huis gevind.
Dit lyk glo nie asof iemand anders in die huis was nie en daar word nou ondersoek ingestel of die drank en dwelms dalk aan die drie se dood verbind kan word. – TimesLIVE



