Paleis bevestig Meghan gaan nie begrafnis bywoon nie

Deel hierdie storie / Share this story

Londen. – Die paleis het tydens ’n inligtingsessie gesê prins Harry is van plan om sy oupa, prins Philip se begrafnis by te woon, terwyl Meghan Markle, wat swanger is met die egpaar se tweede kind, op advies van haar dokter sal tuis bly.

“Die hertog van Sussex is van plan om dit by te woon,” het ’n koninklike woordvoerder gesê. “Die hertogin van Sussex is deur haar dokter aangeraai om nie te reis nie.”

LEES OOK: Hartroerende foto help hond en eienaar

Harry kwarantyn dalk net vyf dae

Prins Harry sal dalk net vyf dae in plaas van tien in kwarantyn moet bly nadat hy uit Amerika aangekom het. Dit is moontlik dat van ’n diplomatieke vrystelling gebruik gemaak sal word om kwarantynreëls van toepassing op vlugte vanaf die VSA aan te pas.

DailyMail berig Harry het reeds grootliks geself-isoleer by die huis naby Santa Barbara toe sy oupa siek geraak het.

Daar word vermoed hy sal getoets sal word vir Covid-19 voor sy vertrek uit die VSA en met sy aankoms in die Verenigde Koninkryk. In plaas daarvan om onderworpe te wees aan die normale kwarantynvoorskrif van tien dae, mag reisigers toegelaat word om die kwarantynfasiliteit te verlaat as hulle na vyf dae negatief getoets word.

Begrafnis vind Saterdag plaas

Prins Philip se begrafnis vind Saterdag 17 April 2021 plaas en sal tot 30 mense beperk word. Die gastelys word volgende week bekendgestel, maar sal na verwagting onmiddellike lede van Philip se familie insluit, waaronder die koningin, prins Charles, sy vrou Camilla, prins Edward, Sophie Wessex, prins Andrew, prinses Anne, prins William en sy vrou Kate Middleton. Daar word ook verwag dat prins Philip se ander kleinkinders en hul lewensmaats dit sal bywoon.

LEES OOK: Vroedvrou in Mei verhoor