April 21, 2021

‘Depressie is ‘n werklikheid’

“Mens voel nutteloos vir die wêreld. Niks het meer vir jou waarde nie. Jy stel in niks belang nie en alle geselskap draai in ‘n bakleiery uit. Jy Google later die verskillende maniere, jy dink aan watter tou jy gaan gebruik om jouself op te hang, watter geweer se sneller jy gaan trek om jouself te skiet.”

'Depressie is 'n werklikheid' (Foto: Unsplash)

'Depressie is 'n werklikheid' (Foto: Unsplash)

KIMBERLEY. – Gerhard Badenhorst (45) vertel van die dag wat hy amper sy eie lewe geneem het en hoe hy besluit het om dit eerder nié te doen nie.

Badenhorst het in Warrenton grootgeword voor hy in Kimberley werk gekry het en verhuis het.

Hy verwys na die onlangse dood van Simoné le Roux.

‘Depressie is ‘n werklikheid’

“Depressie is ‘n werklikheid. ‘n Jong meisie het haar lewe geneem. En sy het nog soveel gehad om voor te leef. Dis verskriklik as jy voel dat jy eerder wil dood wees, eerder nie wil bestaan nie, as om te leef.”

Besluit om sy eie lewe te neem

Badenhorst het sewe jaar gelede besluit om sy eie lewe te neem ná hy vermoedelik al van skooltyd af met depressie gesukkel het.

“Mens voel nutteloos vir die wêreld. Niks het meer vir jou waarde nie. Jy stel in niks belang nie en alle geselskap draai in ‘n bakleiery uit. Jy Google later die verskillende maniere, jy dink aan watter tou jy gaan gebruik om jouself op te hang, watter geweer se sneller jy gaan trek om jouself te skiet.”

Badenhorst sê hy was van plan om voor ‘n lorrie op die Cassandra-brug in te draai. “Ek het nog gedink kom ek draai. En op daai oomblik het ek my oë toegemaak en ek het my vrou en my kind voor my gesien. Hulle het my teruggehou. En ek het my motor afgeskakel.”

Met depressie gediagnoseer

Badenhorst is in 2013 met bipolêre depressie gediagnoseer en gebruik sedertdien medikasie daarvoor.

“Buiten die handvol pille wat ek soggens drink en die tweede handvol wat ek saans drink, is my vrou en my kind, hulle ondersteuning, my vriende en my Christenskap hoe ek my depressie hanteer.”

Badenhorst sê depressie is nie iets wat ‘n mens ooit van ontslae sal raak nie. Hy sê hy sal vir die res van sy lewe met depressie saamleef, maar die manier waarop dit hanteer word, is wat dit moontlik maak om mee saam te leef.

“Selfs nou wanneer ek lê en die lewe skop my en ek voel niks werd nie, sien ek my seun en dan staan ek op en gaan vorentoe.”

Self op skool geboelie

Badenhorst, wat self op skool geboelie is, sê soveel ouers daarbuite verstaan nie deur hoeveel trauma kinders daagliks gesit word nie. “Depressiewe mense voel hulle het niemand om mee te praat nie. En as so ‘n persoon wel met jou kom praat, moenie vir hom sê hy is verkeerd as hy jou vertel hoe hy voel nie. Luister net en probeer verstaan.”

“Een ding wat ek ook besef het, is dat ek ook moet bereid wees om die hand te vat wat na my uitgereik word. Ek het ook nooit besef dat medikasie my kan help nie. Ek het vir myself gesê ek het nie pille nodig nie, maar ek het besef dit gaan nie net oor my nie, maar ook oor almal wat vir my omgee.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: