April 19, 2021

Kby-hospitaal: Dokter ‘wurg’ pasiënt se seun

“En ek kan dit verstaan, dat hulle ons moes verwyder, maar die dat die dokters my gewurg het, is onaanvaarbaar.”

Kby-hospitaal: Dokter 'wurg' pasiënt se seun (Foto: Skermgreep uit die video)

Kby-hospitaal: Dokter 'wurg' pasiënt se seun (Foto: Skermgreep uit die video)

KIMBERLEY. – Lucan Anthony (33) en sy broer, Alcino Anthony (27), het Saterdag in ‘n onderonsie met dokters by ‘n hospitaal in Kimberley betrokke geraak en op ‘n video lyk dit asof ‘n dokter hom wurg.

Lucan vertel aan FiND iT wat gebeur het.

“My ma is Covid-19-positief en is in die hoësorgeenheid van die hospitaal opgeneem. Sy het my Saterdagoggend gebel en gevra dat ek vir haar ‘n bietjie water bring. Ek het toe natuurlik die saal waarin my ma lê, gebel en gevra hoekom hulle nie vir haar water kan vat nie.”

Lucan sê hy het op die ou end self na die hospitaal gegaan. “My ma het vir die susters R100 gegee om vir haar water te koop, maar twee ure later het my ma weer gebel en gevra vir water. Toe ek die saal weer bel en vra hoekom sy nog nie water het nie, het hulle gesê die winkels is ver.”

Lucan vertel sy ma het hom 19:00 Saterdagaand gebel en gevra om haar asseblief te kom skuif. Hy en sy broer het na die hospitaal gegaan en aan die personeel verduidelik dat hulle hul ma uit die hospitaal wil haal, en dis toe dat die stryery begin het.

“Een van die dokters het vir my gevra wie de f*k is ek. ‘n Ander suster het vir my gesê my ma gaan in elk geval doodgaan. Dis toe dat ek my koel verloor het.”

Die hospitaal se sekuriteit moes kom om Lucan en sy broer uit die hospitaal te verwyder. “En ek kan dit verstaan, dat hulle ons moes verwyder, maar dié dat die dokter my gewurg het, is onaanvaarbaar.”

Lucan en sy broer moes ná die voorval na Lenmed-hospitaal toe gaan om seker te maak niks is gebreek nie en hulle is nie te ernstig beseer nie.

“Ons het nou ook ‘n saak by die polisie oopgemaak en het ook ‘n klag by die hospitaal gaan indien.”

FiND iT het teen publikasie nog geen terugvoer ontvang van die hospitaal nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: