April 19, 2021

Ek is die een uit elke vier vroue

Na die geboorte van hulle seun het hulle weer besluit om te probeer vir nog ’n baba, maar het gesukkel om swanger te word.

Ek is die een uit elke vier vroue

Ek is die een uit elke vier vroue

Statistieke het bewys een uit vier vroue sal iewers in haar leeftyd ’n miskraam ervaar. ’n Leser, wat anoniem wil bly, vertel vir FiND iT haar storie van hartseer en hoop.

Drie miskrame

“Ek het drie miskrame gehad. Die eerste twee was redelik vroeg, tussen 5-10 weke en was toe ek 29 en 30 was. Die ergste vir my was om vir n skraap by Kimberley-hospitaal te gaan en tussen al die swanger mammas te sit. Dit het ook vir my gevoel asof niemand, veral nie my man, verstaan waardeur ek gaan nie.Mense het my laat voel dit is my skuld. Ek is nou nog hartseer as ek daaraan dink.”

Babaseuntjie ryker

Sy en haar man het op 10 April 2015 ’n babaseuntjie ryker geword. “Dit was ’n moeilike swangerskap. Ek moes medikasie gebruik om ’n miskraam te voorkom.”

Na die geboorte van hulle seun het hulle weer besluit om te probeer vir nog ’n baba, maar het gesukkel om swanger te word. “Eers nadat ons weggetrek het Pretoria toe, het ons weer uitgevind ek is swanger. Ons het dit die Sondag met ’n tuistoets bevestig. Die Woensdag daarna het ek begin bloei. Ek het geweet dat dit ’n miskraam is, al die tekens was daar. Vrydagaand het ek die hele aand pyn gehad en die Saterdagoggend besluit om Steve Biko-hospitaal toe te gaan.”

Tweeling

LEES OOK: Wenke wat jou lewe kan red

“By die hospitaal het die sonar niks opgetel nie, maar bloed- en urinetoetse het gewys dat ek wel swanger is. Dokters het vermoed dat dit ’n buisswangerskap is en dat ek dieselfde aand ’n operasie moet ondergaan. Ek het in die ongevalle-afdeling gesit van die oggend nege-uur tot die aand nege-uur, sonder enige kos of water. Ek is toe gestuur vir ‘n Rhesus-status bloedtoets. Tydens die toets het ek die Here se stem gehoor wat my gewaasku het dat ek ‘n X-straal moes weier. Ek het die X-straal geweier en is deur die personeel uitgeskel. Ek het aangedring op nog ‘n sonar en hulle het my na die kraamafdeling geskuif. Daar het ek gewag tot halfdrie die Sondagoggend. Die dokter het weer ‘n sonar gedoen en gesê die baba is nog besig om af te kom. Net toe hy wou klaarmaak met die sonar, spring hy op en wys my iets op die skerm. Hy het gesê dit lyk of daar nog iets is. Hy het ’n ander dokter geroep wat saam met hom gekyk het. Hulle het toe gesê dat dit fraternal twins was en dat ek moet bid die ander enetjie kom nie ook af nie.”

Man weet nie

“Ek het in daardie stadium nie lugtyd op my foon gehad om my man te laat weet nie. Ek kon eers die volgende oggend, toe hy my kom haal, vir hom die nuus vertel. Dit was vorentoe nie ‘n slegte swangerskap nie, maar elke keer wat ons by die dokter gekom het, het hy gesê die baba is klein. Ons het nie medies gehad nie, so het baie afsprake gemis. Die duiwel het baie met my kop gesmokkel en my blydskap oor die swangerskap ontneem. Een oggend in die bad het ek hom aangevat en verklaar dat Liam God s’n is en dat hy nie langer my blydskap sal steel nie.“

LEES OOK: Ariana Grande sluit by The Voice aan

Wonderwerk gebore

“Liam is op 10 April 2017 op 35 weke gebore omdat ek in skok gegaan het. Ek was amper aangeval tydens stakings by die skool waar ek werk. Alles het goed uitgewerk en ek is baie bevoorreg om die mamma van twee woelige seuntjies te wees.”

“Ek wil net graag aan almal sê dat daar hoop is. Glo en vertrou net.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: