NOORD-KAAP. – ’n Vrou (30) is vandag omstreeks 08:45 in hegtenis geneem in verband met die moord op haar man, Leon Brits (41).
Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die liggaam van Leon Brits is op 7 Oktober 2020 met veelvoudige steekwonde in ’n swembad op een van die paartjie se eiendomme gevind. Verskeie waardevolle artikels soos vuurwapens, ‘n selfoon, Krugerrande, gepoleerde diamante en kontant is glo van die perseel geneem.
LEES OOK: Plaasmoord-verdagtes op waarskuwings vrygelaat
Drie in hegtenis, een gevonnis
Drie mans is later in hegtenis geneem en een beskuldigde, Jacques van Vuuren (37), is na ‘n pleitooreenkoms op Donderdag 25 Maart 2021 in die hooggeregshof in Kimberley gevonnis. Van Vuuren het 25 jaar ontvang waarvan vyf jaar weens die moord opgeskort is. Vir roof met verswarende omstandighede is 15 jaar opgelê en drie jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen. Die vonnisse sal gelyktydig loop en Van Vuuren sal effektief 20 jaar tronkstraf uitdien.
Twee moet in hof verskyn
Die twee ander beskuldigdes, Amantle Bareki (24) en Enrich Williams (34), staan ook tereg op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van onwettige vuurwapens en verskyn weer op 17 Mei 2021 in die landdroshof op Pofadder.
Vrou aangekla
Die vrou word aangekla van moord en roof met verswarende omstandighede. Sy sal Woensdag 31 Maart 2021 in die landdroshof op Pofadder verskyn.
Die ondersoek duur voort.



