April 18, 2021

‘Gods wege ben wonderlijk’ vertel Hollandse leser na gru-ongeluk

“Ek kon voel hoe my regterbeen soos ’n vuurhoutjie knak. Ek is teen die motor se voorruit geslinger en het 50 m van die motor af op die grond beland.”

Lieberton het jare reeds op die Amsterdamse Schipol-lughawe gewerk toe hulle die aand in Oktober 2013 na werk op pad huis toe was. (Foto: Unsplash)

Lieberton het jare reeds op die Amsterdamse Schipol-lughawe gewerk toe hulle die aand in Oktober 2013 na werk op pad huis toe was. (Foto: Unsplash)

HOLLAND. – “Die dag na die operasie het ek in die hospitaal se kerkie gaan sit en vir die Here dankie gesê dat ek nog hier kan wees vir my vrou en my kinders.”

Arjan Lieberton, ’n Hollander, vertel van die dag wat ’n gru-ongeluk sy lewe onherroeplik verander het.

Op pad huis toe

Lieberton het jare reeds op die Amsterdamse Schipol-lughawe gewerk toe hulle die aand in Oktober 2013 na werk op pad huis toe was.

“Ek was op die voetoorgang, besig om die pad oor te steek. Een voertuig het vir my gestop en toe ek verder loop, het ’n tweede motor van nêrens op my afgepyl gekom. Ek het besef daar is nie ‘n manier dat ek betyds voor hom sou kon padgee nie en ek het probeer om in een beweging die skade so min moontlik te hou.”

“Ek kon voel hoe my regterbeen soos ’n vuurhoutjie breek. Na ek teen die motor se voorruit geslinger is, kom ek sowat 50 m van die motor af op die grond te lande.”

Vreeslike geskree

Lieberton vertel hoe hy ’n vreeslike geskree om hom kon hoor. “Ek kon sien my vroulike kollega wat agter my geloop het se baadjie was vol van my bloed, maar sy was in staat om my te help tot die ambulans opgedaag het.”

“Selfs toe die militêre polisie op die toneel aangekom het, het almal aangehou om so te skree. Ek moes later vir hulle sê om op te hou, want ek is nie doof nie! Ek het later besef hoekom almal so geskree het.”

Die ambulans was vinnig op die toneel. “Ek het geskree van die pyn en na hulle vir my morfien gegee het, was ek rustig genoeg om my vrou te kon bel. Ek het vir haar gesê ek was in die ongeluk en dat sy nog nie die kinders moet sê nie.”

17 steke

Lieberton moes by sy aankoms by die hospitaal 17 steke aan sy kop kry en het daarna dadelik aan die slaap geraak.

Die volgende dag moes ’n chirurg vir vyf en ’n half uur aan Lieberton se been opereer. “Na die operasie was my ma en my vrou by my en ek onthou hoe my ma gesê het: ‘Kyk hoe lyk hy! Hy lyk vreeslik!’. My vrou het amper begin huil en ek het toe vir haar gesê sy hoef haar nie te bekommer nie, want alles onder my gordel werk nog.”

Dankie gesê

Lieberton vertel hoe hy die dag na die operasie in die hospitaal se kerkie vir die Here dankie gesê het dat Hy sy lewe gespaar het.

“Die dag na die operasie het ek in die hospitaal se kerkie gaan sit en vir die Here dankie gesê dat ek nog hier kan wees vir my vrou en my kinders. Gods wege ben wonderlijk.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: