April 18, 2021

Steeds dapper na tweede skok

Adri sê vandag, drie weke later gaan hy aan of daar niks fout is nie.

Steeds dapper na tweede breinoperasie

Steeds dapper na tweede breinoperasie Foto: Verskaf

KIMBERLEY. – Arno Laatz (14), ’n gr.8-leerder van Hoërskool Adamantia, het in Februarie 2021 ’n prosedure ondergaan. Die tweede een in net twee jaar. Vandag staan Arno sterker as ooit en bly hy ’n dapper vegter.

Arno tree snaaks op

Adri du Preez, Arno se ma, sê sy het einde Mei 2019 agtergekom Arno tree snaaks op. “Hy sal vir ’n paar oomblikke in sy eie wêreld wees en glad nie reageer nie. Hy sal ook goed uit sy hande laat val. Ons het dadelik werk daarvan gemaak.”

Gewas op sy brein

Nadat Arno by verskeie dokters was, het skanderings gewys Arno het ’n gewas op sy brein en moes opereer word.

Arno is op 10 Junie 2019 in ’n privaathospitaal in Bloemfontein opgeneem en was vir twee dae op ’n drup om sy immuunstelsel te boost. Hy is op 12 Junie 2019 geopereer.

LEES OOK: Pasop! Hoekom jy nie iemand se gesig in ’n koek moet druk nie

Adri sê die dokters het hulle voorberei vir alles wat moontlik kon gebeur tydens die operasie, wat tussen ses en agt uur kon duur. “Na net oor die vyf ure is Arno uit die teater gestoot. Die dokter het gesê die operasie het wonderlik afgeloop en hulle kon die hele gewas, die grootte van ’n oogbal, verwyder.”

MRI wys wit merkie

Arno Laatz moes sedert sy operasie elke vier maande vir ’n opvolg- MRI skandering gaan om seker te maak alles is normaal. Met die gesin se opvolgbesoek in November 2020 het die MRI-skandering egter ’n wit merkie op Arno se brein aangedui.

“Arno is toe vir ’n CT-skandering geneem, wat gewys het daar is definitief iets en dokters het vermoed dis ’n aneurisme in een van sy bloedvate in die brein.”

Daarna moes hy vroeg in Januarie 2021 vir ’n angiogram in Bloemfontein gaan en ’n week later het hulle die nuus ontvang dat hy wel ’n aneurisme het wat op ’n baie gevaarlike plek in die brein sit.

“Min dokters kan die operasie doen, maar hulle het met dokters in Kaapstad gepraat. Sou die aneurisme bars, was die kans daar dat Arno kon doodgaan. Ons het toe by ’n wonderlike dokter in Kaapstad uitgekom en het die 19de Februarie die pad Kaapstad toe aangepak.

LEES OOK: Miss Bachelorette-finalis wil vroue opbou

Teater toe vir operasie

“Arno is ondersoek en hy is die 25ste Februarie 2021 teater toe om die aneurisme te laat afbind.”

 ’n Prosedure wat ’n halfuur na 45 minute moes duur, het twee ure geword.

“Arno kon nie sy linkerkant van sy liggaam beweeg nie. Gelukkig kon die dokters vinnig die nodige doen. Hy is na ’n paar uur in die hoësorgeenheid opgeneem en kon die aand sy linkerarm en been beweeg.”

Prosedure het goed verloop

“Die dokter het aan ons verduidelik dat die prosedure verder baie goed afgeloop het en dat hulle die bloedvat kon suksesvol kon afbind en sodoende my kind se lewe gered het. Hy is die volgende dag ontslaan.’

Adri sê vandag, drie weke later, gaan Arno aan of daar niks fout is nie.

Dankie

“My kind is deur so baie die afgelope twee jaar en steeds staan hy sterk. Op sy Facebook-blad, Arno’s Journey, is daar so baie mense wat vir hom bid en ondersteun. Ons kan net die Here dank dat ons seun ’n tweede keer met groot sukses uit ’n groot ervaring stap. Ons kan nie genoeg dankie sê vir elke persoon wat ’n donasie gemaak het, of ’n cupcake gekoop het om te help met Arno se fondsinsameling vir sy mediese rekeninge nie. Julle sal nooit weet wat dit beteken nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: