KIMBERLEY. – Studente van die Sol Plaatje-universiteit het vanogend deelgeneem aan die landswye protesaksie wat deur die Suid-Afrikaanse Studente-unie (SAUS) georganiseer is. SAUS het ’n lys met vereistes aan die ministerie van hoër onderwys gestuur en was nie tevrede met die terugvoer wat hul ontvang het nie.
Die SAUS het gesê hulle sal seker maak dat alle universiteite aan die staking deelneem.
Remofilwe Moeti, ’n student aan Sol Plaatje-universiteit, sê die staking wat vanogend plaasgevind het by die universiteit, was bloot net ’n optog na die Luka Jantjie-huis, waar ’n memorandum met versoeke aan die bestuur oorhandig is.
Sy sê daar is talle redes vir die staking, maar die grootste is studente wat weens finansiële probleme uitgesluit word.
“Studente wat verdien om te studeer, kan nie registreer nie, omdat hulle die universiteit nog geld skuld. Mense moet verstaan hierdie is minderbevoorregte studente en hulle is tans onder geweldige stres en wil graag net klaarmaak met hul studies.”
Moeti sê hulle vra net dat studente wat verdien om te studeer toegelaat sal word om dit te doen.
Vanogend se protesaksie het om en by tienuur tot ’n einde gekom en studente wag nog op terugvoer van die universiteit.
Die student se oriëntasieprogram word hierdeur geaffekteer en is eers tot verder kennisgewing opgeskort.
FiND iT wag nog op die Sol Plaatje-universiteit se woordvoerder vir kommentaar.
Lees ook: Klein Marnu verloor sy kankerstryd



