SAUS vereis afskryf van skuld, Nzimande sê dis nie moontlik nie

Deel hierdie storie / Share this story

Die Suid-Afrikaanse Studente-unie (SAUS) het ’n lys met vereistes aan die ministerie van hoër onderwys gestuur, maar was nie tevrede met die reaksie van Buti Manamela, die adjunk-minister, nie.

Volgens The South African het SAUS gesê hulle sal seker maak elke universiteit in Suid-Afrika neem deel aan ’n landswye staking wat vandag, 15 Maart, plaasvind, indien nie aan hul vereistes voldoen word nie.

Die SAUS se vereistes is o.a.:

  • Gratis registrasie in 2021 vir alle studente
  • Verlenging van registrasietydperk tot 30 April vir alle tersiêre instellings
  • Finansiële afskryf van historiese skuld vir alle studente
  • Befondsing van nagraadse studies deur die regering

Verdere eise sluit in gratis gehalte-onderwys vir die armer studente en geregtigheid vir die dood van ’n 35-jarige man wat vermoedelik deur polisiebeamptes doodgeskiet is tydens die Wits-optogte wat vir ’n week aangehou het.

“SAUS verwerp die antwoorde van die ministerie van hoër onderwys soos uiteengesit deur die adjunk-minister. Ons sien hierdie reaksie as onbevredigend en sonder tasbare oplossings om aan die 15 eise te voldoen. Dit getuig ook van die gebrek aan dringendheid en toewyding deur die ministerie om hierdie kwessies op vriendskaplike wyse op te los sonder om studente bloot te stel aan wrede betogings,” het die studentevereniging gesê.

Departement het nie genoeg fondse om die studenteskuld af te skryf nie

Minister Blade Nzimande sê die departement is nie finansieel in staat om die historiese skuld van studente af te skryf nie. Die SAUS vereis dat R13 biljoen rand se skuld afgeskryf moet word, sodat daar geen diskriminasie by die registrasieproses kan plaasvind nie.

Nzimande sê die instansies regoor Suid-Afrika doen alles in hul vermoë om te verseker studente is in staat om te registreer. “Instellings moet egter ook finansieel volhoubaar bly om effektief te kan voortgaan.”

Hy moedig die studente-unie aan om verder met die universiteite te kommunikeer. Verder sê hy dit is belangrik dat hulle saamwerk sodat die situasie opgelos kan word.

Lees ook: Tiener verloor amper vinger oor naels kou