Man kom na 6 maande agter ‘pa’ op WA-groep is ’n vreemdeling

Deel hierdie storie / Share this story

KENTISH TOWN. – Jonno Hopkins het ’n snaakse storie op sy Twitter-profiel met ander gebruikers gedeel. Hy kon vir ses maande lank nie verstaan waarom sy pa nie weet van dinge waaroor daar reeds op die gesin se WhatsApp-groepie gepraat is nie. Toe sy sussie hom uiteindelik gevra het om hulle pa op die groep te sit, het hy besef dat hy die verkeerde ‘Peter’ op die groep gesit het…

“My pa het my gereeld gebel en gevra oor dinge wat op die groepie bespreek is,” skryf Jonno. “Ek sou dan vir hom vra: ‘Pa is dan op die WhatsApp-groep, lees Pa nie die boodskappe nie?’. Wanneer hy dan verbaas was, het ek gedink dis omdat hy oud is.”

Lees ook: Pa vermoor seuns (3 en 4) en toe homself

Peter, die man wat Jonno op die groepie gesit, het vir ses maande lank die gesin se WhatsApp-boodskappe gelees en niks gesê nie. “Ek weet nie hoekom ek ‘Peter’ en nie ‘Pa’ op die groepie gesit het nie.”

“Fop-pa” Peter is toe al die tyd ’n loodgieter wat in 2013 die wasmasjien in hulle woonstel reggemaak het.

Verder skryf Jonno dat hy nie regtig gedink het dis vreemd dat sy ‘pa’ nie regtig antwoord op die WhatsApp-groep nie. “Hy was nog nooit rêrig iemand vir kletskamers nie.” Hy sê ook dat dit nie vreemd was dat sy nuwe ‘pa’ nie op verjaardae of Kersfees ’n boodskap gestuur het nie, want ‘ons bel mekaar gewoonlik op spesiale dae.’

‘Pa’ Peter is intussen van die groep verwyder en Jonno sê hy sal nie weer kontak maak nie. “Toe hy ons wasmasjien kom regmaak het, het hy op ’n manier al die klere wat in die drom vasgesit het, gebleik, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.”