Covid-19: Gesondheidswerker verkies staatshospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

Retha Lotz (50), ‘n gesondheidswerker, vertel van haar Covid-19-ervaring en oor hoekom sy verkies het om in ‘n staatshospitaal eerder as ‘n privaat hospitaal behandeling te ontvang.

Lotz werk sedert die begin van die pandemie as bestuurder in ‘n hospitaal se Covid-19-afdeling. “Omdat ek nou al van April af in dié afdeling werk, weet ek nou al hoe dinge gedoen word,” vertel sy.

Lotz het die Vrydag in Januarie begin siekerig voel. “Ek het aanvanklik gedink ek het maar sinus onder lede, want ek sukkel gereeld met sinus. Toe ek teen Sondagaand begin hoes en koors het, het ek geweet ek moes Covid-19 iewers opgedoen het.”

Sy is die Maandag getoets en daar is vir haar ‘n bed in ‘n privaat hospitaal in Kimberley bespreek. Dis in die hospitaal dat sy slegter begin voel het.

“Die hele week wat ek in die hospitaal was, het dit vir my gevoel asof niemand omgee nie. Ek het gebraak, ek het nie geëet nie en ek wou ook nie die pille drink nie, want ek het geweet dit sou my nog naarder laat voel,” vertel sy. “Ek het toe uiteindelik iemand wat ek ken wat admin doen, gebel, en gekla oor my situasie. Die afdelingsbestuurder het toe na my toe gekom en gesê die rede waarom die hospitaalpersoneel nie regtig by my is nie, is omdat sy vir hulle gesê het om dit ‘veilig te speel’ en hulle ‘tyd saam met pasiënte so min as moontlik te hou’. Ek kon dit nie glo nie.”

Lotz vertel hoe sy in dié stadium baie deurmekaar gevoel het en nie met die bestuurder kon redeneer nie.

“As hulle gesien het ek raak nie beter nie, het hulle vir my sterker antibiotika gegee. Ek het Sondagaand die gevoel gekry dat ek gaan doodgaan. Ek het gedink hulle gaan my op ‘n ventilator sit. Al wat ek heeltyd kon dink, was dat ek nie kon doodgaan nie. Ek het nog ‘n 80-jarige ma en ‘n kind om na om te sien!”

Toe Lotz later na die staatshospitaal in Kimberley bel en vra of daar vir haar ‘n bed is, is daar dadelik vir haar ‘n ambulans en bed in die intensiewesorgeenheid gereël.

Lees ook: Vrou skud 100 kg af en “is nog nie klaar nie”

“My antibiotika is dadelik gestop en ek is op die kortisoon-regime geplaas. Ek het van daar af net beter geraak,” vertel sy.

Lotz sê sy het in haar tyd in die hospitaal vir die eerste maal die hospitaal van ‘n pasiënt se kant af ervaar. “Dis vreeslik om in daai saal te lê en te sien hoe die begrafnisondernemers kom en die volgende dag is die bed leeg. Dis vreeslik om te ervaar.”

Wat dit egter vir haar beter gemaak het, is die menslikheidsaspek wat sy so duidelik in die staatshospitaal kon sien. “Daar sit heeltyd ‘n dokter in die intensiewesorgeenheid by die hospitaal. As jou familie die hospitaal bel om te hoor hoe dit met jou gaan, praat hulle met die dokter self. Daar word die ekstra myl gestap! Dis iets wat baie mense deesdae miskyk as dit by staatshospitale kom.”