Vir en teen jag: Die groot debat

Deel hierdie storie / Share this story

Die groot jagdebat bestaan al vir baie lank, maar soos met enige ander omstrede onderwerp, is dit baie belangrik om elke kant van die spektrum te verstaan en al die feite te weet.

Jag kan breedweg verdeel word in twee tipes, wat verskillende doelstellings het.

“Die eerste tipe is verbruiksjag wat die doel het om vleis as bron van proteïen vir eie gebruik te bekom,” sê Fred Camphor, hoof uitvoerende beampte van die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging.

“Tweedens het ons trofeejag, wat meer die doel het om ‘n spesifieke trofee te bekom, hoewel die vleis van gejagte diere nie verlore gaan nie.”

Camphor is sedert 2007 betrokke by die bestuur van die vereniging, met meer as 43 000 opbetaalde lede regoor die land wat in 82 takke bedryf word.

“Verbruiksjagters is grootliks plaaslike jagters waarvan daar ongeveer 300 000 in Suid-Afrika is wat elke jaar in die jagseisoen ‘n vuurwapen van sy of haar keuse sou neem en gaan jag, bloot om die vleis te bekom vir eie gebruik,” sê Camphor.

Die somtotaal ekonomiese bydrae wat deur hierdie groep jagters gelewer word, beloop in die omgewing van R12.8 miljard per jaar.

Die meeste van hierdie geld word in die armer plattelandse gebiede bestee in ‘n bedryf waarin naastenby 85 000 werksgeleenthede geskep word en ongeveer ‘n halfmiljoen mense onderhou word.

“Trofeejagters is meestal buitelandse jagters wat ‘n jaggebied besoek met die doel om te jag en sy/haar trofeeversameling aan te vul.”

Die vleis van diere wat vir trofeë gejag word, gaan nie tot niet nie en word ook verwerk en gebruik, baie dikwels in die kleinhandelketting en/of as rantsoene.

Net so word die afvalprodukte soos velle van gejagte diere verwerk na leer en die horings na ornamente.

Daar is ongeveer 6 000 tot 8 000 trofeejagters wat S.A jaarliks besoek, voordat Covid-19 ‘n einde hieraan gebring het en die somtotaal ekonomiese bydrae van trofeejag in die land beloop ongeveer R1.8 tot R2.4 miljard per jaar.

“Die anti-jag brigade is in baie gevalle mense wat doodgewoon oningelig is en emosioneel ook baie dikwels ongebalanseerd is,” sê Camphor.

“Hulle weet nie waar en hoe wild geproduseer word nie, en ook nie hoe die vleis geoes en verbruik word nie.”

Hy sê dat in baie gevalle is die denkraamwerk dat jagters wrede mense is wat net wil doodmaak en dit doen sonder om enigsins te diskrimineer.

“Hulle het geen idee hoeveel geld ‘n boer spandeer om ‘n wildpopulasie te vestig op grond wat in baie gevalle nie andersins gebruik sou kon word nie.

“En hoeveel geld jagters spandeer en met hoeveel moeite wild spesifiek uitgesoek en uitgeskiet word bloot om die vleis te gebruik en beide hiervan tot voordeel van die boer en sy afhanlikes, sy werkers en hulle gesinne en die jagter en sy gesin.”

Laastens sê hy jagters is die grootste bewaarders in die land wat die meeste geld spandeer om wild en die omgewing in S.A. te bewaar.

“Dit word gedoen deur juis hulle geld daar te gaan spandeer in die armer dele van die land waar daar soms geen ander inkomste is nie.

“Dink net op ‘n ander manier aan die bydrae wat hulle lewer. As dit nie vir wildboere en jagters was nie, was daar verskeie spesies wild wat vandag nie in S.A oorleef het nie en reeds totaal uitgewis sou wees.”

Elkeen van die volgende spesies was op die rand van uitwissing in S.A en is as spesie gered: bontebok, swartwildebees, witrenoster, oorbietjie, bergkwagga en swartrenoster.

“Dit is omdat wildboere, jagters en bewaarders saamgespan het en met harde werk, baie dissipline en moeite, uiteindelik die spesies gered, getalle vermeerder en die spesie laat behoue bly het.”

Laat weet ons jou gedgates oor die groot jagdebat.