‘Kaylyn het voor ons weggekwyn,’ sê ouers van tiener met breinkanker

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN. – Kaylyn Grobbelaar (16) het in November 2020 ’n aanval gekry waarna sy en haar ouers dié skokkende nuus ontvang het – Kaylyn is op 16 jaar met ’n aggressiewe breinkanker gediagnoseer.

Tertius, Kaylyn se biologiese pa, en Susan, Kaylyn se stiefma en wettige voog, moes alles in Ierland los en afkom na Kimberley om Kaylyn te ondersteun.

Hulle het Kaylyn ondersteun

“Kaylyn het by haar ma gebly terwyl ek en haar pa in Ierland was. Tertius het ’n werk daar en dis hoekom ons soontoe moes verhuis. Ons het alles net daar gelos en afgekom na Kaylyn toe ons die nuus hoor,” sê Susan.

Susan vertel Kaylyn het November 2020 op ’n Saterdag haar eerste aanval gekry en is na die staatshospitaal in Kimberley geneem. Volgens Susan het die hospitaal slegs haar vitals geneem en gesê hulle moet haar terugbring indien dit weer gebeur.

Sy is met breinkanker gediagnoseer

“Sy het in ’n kort tyd swakker en swakker geword. Sy het voor ons weggekwyn. Sy het op ’n stadium slegs 16 kg geweeg.”

Die Maandag het hulle deurgery Bloemfontein toe om Kaylyn daar na ’n hospitaal te neem. Universitas-hospitaal het dadelik met toetse begin. Dis toe sy met breinkanker gediagnoseer is.

“Hulle kan nie spesifiseer watter tipe breinkanker dit is nie, want hulle kan nie ’n biopsie doen nie. Die gewas sit op ’n hoofslagaar en daarom sal ’n biopsie baie lewensgevaarlik wees.”

Begin met sterk chemoterapie

Kaylyn het reeds 27 sessies bestraling ontvang. Sy het Vrydag begin met chemoterapie. Die 12de Maart gaan sy weer terug vir sterker chemoterapie en sal dan vir vyf dae in die hospitaal moet bly.

“Sy is tans by die huis, maar sy het heeltyd sorg nodig. Haar pa moet een van die dae terug Ierland toe, want sy werk is ons enigste inkomste. Ons maak tans staat op donasies,” sê Susan effens hartseer.

Sy kon in ’n Ferrari ry

Kaylyn het reeds sig in haar een oog verloor, sy kan later haar gehoor ook verloor. Volgens Susan het die kanker Kaylyn se groei belemmer en sy, tans 16, lyk soos ’n sewejarige.

Foto: Verskaf

“Kaylyn is steeds gretig om te leer en Reach for a Dream het vir haar ’n rekenaar gegee wat sy later gaan gebruik om aanlyn skool te gaan. Sy wil baie graag skool klaarmaak. Verlede Saterdag was sy in die wolke toe haar droom om in ’n Ferrari te ry, waar geword het.”

Foto: Verskaf

Kaylyn het steeds ’n lang pad om te stap. Indien jy ’n bydrae wil lewer, kan jy Back a Buddy besoek om ’n donasie te maak.

LEES OOK: 11 biologiese kinders: Vrou (23) met 11 babas wil groter gesin hê

Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus.