Die gruwelike prentjie van ’n jong meisie wat in ’n donker kamer sit met haar hande en voete vasgebind en haar mond toegeplak, ’n donker silhoeët van ’n man agter haar wat besig is om sy broek se knoop los te maak terwyl trane oor die kind se wange loop, is nie altyd die prentjie van ’n mensehandelslagoffer nie.
Volgens Upworthy het Melanie Cholish haar storie op haar Facebook-blad gedeel en gesê dat alhoewel die beskrywing hier bo die algemeenste prentjie is oor hoe mense dink mensehandel is, is dit in haar geval glad nie dieselfde nie.
Mensehandel kan ook so lyk
“Ek is ’n mensehandelslagoffer vanaf die ouderdom van vyf of ses jaar tot in my tienerstadium, deur my eie pa.” Sy sê dit is belangrik om jouself te leer oor hoe mensehandel nog kan lyk. “Ek kan met eerlikheid sê ek was nooit vasgebind of in ’n donker kamer aangehou nie.”
“Talle kere het my pa my na ’n openbare plek geneem en iewers laat wag en ’n vreemde man sou kom en maak asof hy sy dogter soek. Ek is dan ’n roomys of so iets gegee en word dan deur die man begelei.”
Geen donker kamers, net openbare plekke
“Hoeveel keer is ek nie in die openbare swembad alleen gelos vir ’n oomblik net sodat ’n vreemde man my kom haal om vir ’n rukkie na hom toe te gaan.” Sy verduidelik ook dat sy baie by lughawens en sulke plekke oorgegee was aan ’n vreemde man en dat dit vir almal so normaal gelyk het. “Dit het gelyk soos net nog ’n meisie wat van haar oom na haar pa toe gaan.”
Kinders word nie noodwendig sleg behandel nie
Cholish sê menige keer word kinders nie aangerand en beseer nie, maar word eerder lekkernye en bederfies gegee. “Jy word met valse vriendelikheid behandel en hulle laat jou glo dat wat gebeur reg is, dis normaal en dat hulle spesiaal is.”
“Hoekom het ek nie gegil nie?”
“Hoekom het ek nie geskree nie? Want my lewe was nie in gevaar nie, dit was my normaal. Dis hoe ek gedink het dit moet wees en ek moes noudat ek volwasse is my innerlike kind vergewe, want ek het nie van beter geweet nie.”
“My ma het my nie gehelp nie”
“Ek is van ’n klein dorpie in die Verenigde State. My pa was ’n liga-afrigter en my ma was ’n huisvrou. Sy het geweet van alles en het soms my pa gehelp met reëlings.”
Mensehandel kan voor jou plaasvind
“Let op wat om jou is, kyk wie laai ’n kind af en kyk wie laai daai kind op. Moenie stilbly nie, praat met kinders en leer hulle. Skole moet oplet en reageer. Ek was talle kere uit die klaskamer gehaal omrede iemand iets vermoed het, maar daar was nooit gereageer daarop nie, kinderdienste was nooit gebel nie. Hulle kon my vroeër gehelp het.”
Lees ook: Europa se oudste persoon oorleef Covid-19, sê sy het dit nie gevrees nie



