Die Britse koningin, Elizabeth II, se man prins Philip, die hertog van Edinburgh, is Dinsdagaand in die hospitaal opgeneem omdat hy ongesteld was.
Volgens NBC News het Buckingham-paleis Woensdag in ’n verklaring gesê die prins is as ’n voorsorgmaatreël na ’n hospitaal geneem op advies van sy dokter.
Na verwagting sal die prins vir ’n paar dae in die hospitaal vir waarneming en bedrus wees.
Koningin Elizabeth II en prins Philip het albei verlede maand die Covid-19-entstof ontvang. Die koninklike paar bly tydens die Covid-19-pandemie in Windsor Castle, ’n paleis net wes van Londen.
Prins Philip het in 2017 van sy openbare pligte afgetree en is die langste dienende koninklike lewensmaat in die geskiedenis. Hy het in 1947 met koningin Elizabeth II getrou en saam het hulle vier kinders. Die koninklike paart het nou agt kleinkinders en nege agterkleinkinders.




