February 26, 2021

Koue tref Texas – Amanda, oud-Suid-Afrikaner vertel

Baie gebiede het rekord lae getalle van in die -30°C gemeet

Foto: Amanda

Amanda De Roubaix Bosch is in Suid-Afrika gebore en en het hier opgegroei, maar bly nou al vir twee jaar in Texas, Dallas. Sy gesels bietjie met FiNDiT oor haar ervaring in die Verenigde State en die koue weer wat hulle tans beleef.

Foto: Amanda

Amanda sê dit was ’n aanpassing om uit Suid-Afrika te trek, maar as hulle weer die keuse gehad het, sou hulle dit weer doen. “Dis die gevoel van veiligheid. Hier is ook misdaad, maar niks soos die alledaagse Suid-Afrika nie.”

Amanda vertel die weer in die somer in Texas is gelykstaande aan Durban se weer met ’n baie hoë humiditeit. “Die winter is eintlik ’n baie aangename tyd van die jaar, maar hierdie winter is die eerste winter wat ons so koud kry. Meeste Texane het nog nooit so ‘n koue winter beleef nie, want dis die eerste keer in 30 jaar wat dit so koud raak hier.”

Foto: Amanda

Paaie is te geys vir motors om op te ry

Amanda sê baie besighede het eers toegemaak omrede hulle die mense van die geysde paaie af wil hou. Sy sê daar is winkels oop, maar baie produkte soos brood en melk is uitverkoop, want die trokke kan nie ry nie. Die winkels maak ook vroeër toe sodat werkers veilig kan terugkeer huis toe.  “Ons skole het oopgemaak, maar toe die koue kom en die baie ys, het hulle weer toegemaak. Dit gaan alles oor die kinders wat op die busse ry.”

Koue in Texas
Foto: Amanda

Miljoene sit sonder krag in die koue

Daar is miljoene mense wat sonder krag in die koue sit en sommige sonder water ook, want die koue veroorsaak dat hul waterpype bars.“Kerke en groot motorhandelaars het hul deure oopgemaak vir mense om te oornag daar en selfs jou diere is welkom.”

Volgens The Guardian is daar 21 mense oorlede weens die uiterste weerstoestande. Drie mense is dood nadat n tornado ’n kusdorpie getref het, vier familielede het omgekom in ‘n huisbrand in Houston terwyl hulle ‘n kaggel gebruik het om warm te bly en talle ander het hul lewens verloor in motorongelukke en aan die inaseming van koolstofmonoksied.

Baie gebiede het rekord- lae temperature van -30°C gemeet.

Lees meer hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: