Ma praat: ‘ek het my kind se dood versin en haar selfdoodbrief geskryf’

Sy het verlede jaar in Junie aan dié groep gesê Megan het selfdood gepleeg en het ’n selfdoodbrief, waarin Megan sê haar pa het haar “gemolesteer”, vervals.

Ma praat: ‘ek het my kind se dood vervals en haar selfdoodbrief geskryf’

Ma praat: ‘ek het my kind se dood vervals en haar selfdoodbrief geskryf’

Zwanet Kühn, wat haar dogter, dié se verloofde en haar pa se selfdood versin het, het vanoggend openlik met FiND iT gesels oor wat haar gedryf het om haar kind se dood te versin en haar selfdoodbrief te skryf.

Haar eksman, Abrie Raaths, is in 2012 vier keer lewenslank tronk toe gestuur nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van Megan (nou 20), Zwanet en Abrie se dogter. Megan probeer al vanaf 2011 haar pa se onskuld bewys en sê hy het dit nie gedoen nie. Sy sê sy is geïndoktrineer en was gedwing om spesifieke antwoorde in die hof te gee. Voor sy vonnisoplegging het sy ’n verklaring afgelê om te sê dit is nie waar nie, maar dit is nie in die hof aanvaar nie.

LEES DIE VOLLEDIGE BERIG HIER.

Nadat Pixie Pink, ’n aktivis vir vroue- en kinderregte, Megan begin help het om haar pa se onskuld te bewys, het Zwanet deel geword van ’n ondersteuningsgroep van Pink, genaamd die “Queens”.

Dié groep het hulle bygestaan en gehelp. Zwanet sê haar egskeidingsaak met Abrie het lank gesloer en sy was uitgeput. Sy was in ’n diep, donker gat en het haarself na kalmeer- en slaappille gewend.

Sy het verlede jaar in Junie aan dié groep gesê Megan het selfdood gepleeg en het ’n selfdoodbrief, waarin Megan sê haar pa het haar “gemolesteer”, vervals. Sy het ook ’n selfdoodbrief namens Abrie geskryf. “Ek het die briewe geskryf. Ek was alreeds in ’n diep gat. “Ek weet nie hoekom het ek in een van die briewe geskryf dat Megan sê haar pa het haar molesteer nie. Ek het pille gedrink en het nie nugter gedink nie.”

LEES DIE SELFDOODBRIEF HIER.

Sy was volgens verskeie vriendinne en lede van die groep gebroke oor haar kind, haar ongebore kleinkind (sy het gesê Megan was swanger) se “sterftes”.

“Na jare se hofsake en getuienis van my en my dogter, het dit niks gehelp nie. Abrie se familie het ons steeds blameer en hulle woede by tye op ons uitgehaal. Konflik tussen my en sy familie wou maar nooit tot bedaring kom nie en die lewenslange vete hang soos tronkstraf oor ons. Weens die pandemie en my man se salaris wat gesny is, het dinge net te veel geraak. Ek was ook gestres oor my kinders wat so wydverspreid was. In die stadium was daar weer ’n uitval met een van die familielede en is ek weer gebrandmerk as die skuldige. Maak nie saak hoe hard ek probeer het om te help nie, daar was altyd wrywing.”

Volgens Zwanet wou Abrie se nuwe vrou nie die hulp wat Pink aangebied het, aanvaar nie. By verdere ondersoek deur FiND iT, sê Abrie se vrou dit is heeltemal onwaar. Sy was nie bewus van die hulp wat deur Pink aangebied was nie.

“Megan het geweldig baie met die ding gewroeg en ek kon sien hoe dit my kind vernietig. “Dinge het vir my erger geword omdat ek gesien het hoe breek my dogter elke dag en my hande is afgekap. Op daardie stadium het ek medikasie vir depressie gebruik in die hoop dat dit dinge sou vergemaklik maar die teendeel was dit het dinge net vererger.
Ek het nooit gedink iemand sou ooit my leuens uitvind nie. Die storie in Rapport van 14 Februarie 2021 het my gedwing om met die hele sak patats uit te kom.”

‘My kind is dood’

Zwanet sê nadat sy vir Pink gesê het Megan is dood, het sy soveel ondersteuning ontvang, sy het nie geweet hoe om met die waarheid vorendag te kom nie. ““Ek het nooit gedink dit sou uitkom nie.” Sy het gesê Reniers kon nie Megan se dood verwerk nie en het miergif gedrink. Abrie het in sy sel selfdood gepleeg. Megan, Reniers en haar pa lewe nog. Nie een van die drie was bewus daarvan dat mense dink hulle is dood nie.

LEES DIE WHATSAPP-BOODSKAPPE VANAF ZWANET HIER.

Zwanet se man, Jaco, was ook nie bewus van haar leuens nie. So ook nie haar ander kinders nie. Sy het haar voorgedoen as haar jongste dogter, wat met ’n vriendin oor haar sussie se “dood” gepraat het. “My jongste dogter het nooit met hulle gepraat nie. Ek het gesê ek is sy. Want soos ek sê ek het probeer om die groot fout wat ek gemaak het ’n stil dood te laat (sterf). Ek was so bang dit kom uit en wou nie gehad het dat sy moes weet wat haar mamma gemaak het nie.”

Jaco was “baie teleurgesteld”, maar sy sê hy kies om by haar te staan. “Die lewe het ons saam al baie harde stampe en stote besorg, veral as ek my medikasie gebruik. My man bly lief vir my en ons glo ons huwelik sal ook die uitdaging oorleef.”

SIEN VIDEO WAT ZWANET GEMAAK HET OOR MEGAN SE ROUDIENS.

Demper op verhouding met dogter

Zwanet sê sy en Megan het nog altyd ’n hegte verhouding gehad, maar daar is nou ’n “demper” op hulle verhouding. “Ek het gevoel ek sal baklei saam met haar om haar pa se onskuld te bewys. Dit was bitter moeilike dae. Maak nie saak wat ons gedoen het nie, niks het sy saak verbeter nie. Sy kon hom nie sien nie. Dit is baie erg vir my en vir haar gewees. Dit is nog steeds.”

Nadat dit gister (14 Feb.) uitgekom het dat sy Megan se dood versin het, het Megan haar gevra dat sy eers moet tyd gee om rustig te raak. “Haar skyndood was vir haar ’n geweldige skok. Sedertdien sak mediahuise op haar toe en sy is duidelik oorweldig deur die negatiewe aandag wat sy tans verduur. Sy was baie kwaad en kan nie verstaan hoekom ek gesê het hulle is dood nie. Ek is so ongelooflik jammer dat ek so iets gedoen het.”

Seun bly by stiefma

Abrie en Zwanet se oudste seun (21) bly al twee jaar by sy stiefma in die hoop om sy pa se onderneming te maak werk terwyl sy pa in die tronk is. Zwanet sê sy sien hom elke tweede naweek.

Kan nie onthou van geld

Zwanet sê sy kan “eerlikwaar nie onthou” dat sy ooit enige finansiële bydrae by die Queens-groep ontvang het nie, buiten een vrou wat vir ’n maand lank haar seun se skoolgeld betaal het en haar nou en dan gehelp het.

Nie meer betrokke by die Queens nie

Die Queens, ’n omgeegroep wat gestig is om vroue in moeilike tye by te staan het, was vir jare deel van Kühn se lewe, maar sy het self vroeër verlede week besluit om haar van die groep te verwyder. Die groepie het al Zwanet se lief en leed gedeel.

“Dit wat ek gedoen het, is onvergeeflik en ek aanvaar aanspreeklikheid. Maar ek hoop dat die mense wat ek so seer gemaak en voor gejok het my sal vergewe en hoop dat daar nie verder te ernstige gevolge sal wees nie.”

Raaths dien tans vier lewenslange tronkstraf en nog 20 jaar effektief uit. 

LEES DIE ONDERHOUD MET ABRIE SE MA HIER.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: