Boere in opstand oor beoogde onwettige informele nedersetting op vrugbare landbougrond buite Krugersdorp

Die stootskrapers het reeds die servituut-pad toegestoot waarmee verskeie boere toegang tot hul plase verkry.

Boere in opstand oor beoogde onwettige informele nedersetting op vrugbare landbougrond buite Krugersdorp

Boere in opstand oor beoogde onwettige informele nedersetting op vrugbare landbougrond buite Krugersdorp

“Die boeregemeenskap van Steenekoppies buite Krugersdorp is ontstoke nadat die Mogale City- plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) sonder enige openbare deelnameproses stootskrapers ingestoot het ter voorbereiding van ’n informele nedersetting op gedeelte 79 van 153 van die plaas Steenekoppies,” sê Tjaart Steenkamp, VF Plus-raadslid.

Die stootskrapers het reeds die servituutpad toegestoot waarmee verskeie boere toegang tot hul plase verkry.

 Die stuk waterryke landbougrond is langs die R400 geleë, slegs ’n klipgooi van die Maropeng-sentrum,  die amptelike besoekersentrums vir die Wieg van die Mensdom-Wêrelderfenisgebied.

 “Die VF Plus het intussen vasgestel dat geen omgewingsimpakstudies vir voornemende dorpstigting gedoen is nie en dat die beplande nedersetting nie deel vorm van die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) nie.”

 “Tydens ’n driftige openbare vergadering verlede Saterdag onder leiding van Mogale City se burgemeesterskomiteelid vir behuising,  Bongani Nkosi, was gemeenskapslede, wat reeds op die grond woon en glo eienaarskap belowe is, asook omliggende boere dit eens dat hulle deur die munisipaliteit geboelie word. Nkosi moes die vergadering verdaag en het aangebied om vrae skriftelik te beantwoord.”

LEES OOK: Een meisie beseer, nog een oorlede in gru-ongeluk

 “Die VF Plus beskou die besluit van Mogale City as ondeurdag omdat twee kilometer verder daar reeds ’n informele nedersetting gevestig is. Dié nedersetting in Oriënt Hills het geen basiese dienste nie. Inwoners is gereeld in opstand en versper die pad na Maropeng en die Golden Harvest-tehuis vir bejaardes met klippe.”

 “Die inwoners van die beplande nuwe informele nedersetting in Steenekoppies is afkomstig van ’n informele nedersetting in West Village, buite Krugersdorp, wat deur die munisipaliteit ontruim en platgestoot is. Gesinne word nou in verskeie munisipale geboue in Krugersdorp gehuisves.”

 “Dié mense is ook nie gelukkig om op grond meer as 20 km buite die dorp gehuisves te word nie omdat daar geen werksgeleenthede is nie en dit ver van hul huidige werksplekke is.”

 “Die VF Plus het reeds ’n dringende skrywe gerig aan die burgemeester van Mogale City, Francis Makgatho, om die werksaamhede dadelik te laat stopsit en om seker te maak alle munisipale regulasies word gevolg en die nodige openbare deelnameprosesse gevolg.”

Die party sal ook die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, versoek om in te gryp en die situasie te beredder.

Lees meer artikels hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: