Vreugde na anonieme tandarts hulp verleen

“Hy is so bly oor sy draadjies, hy kyk die hele tyd in die spieël.”

Die 14-jarige Marius Conradie van Buffelspoort het ná nege jaar se gespot en geterg oor sy tande, nou sy eerste stel draadjies gekry. Dit volg na sy pa, Marius, homself tot Facebook gewend het in ‘n poging om sy seun te help.

Marius het binne minder as 24 uur na sy aanvanklike plasing op Facebook ’n oproep van ’n dokter in Hartbeespoortdam, wat anoniem wil bly, gekry wat bereid is om Marius verniet met die prosedure te help.

Marius het op die ouderdom van vier jaar sy twee voortandjies uitgeval. Sy voortande het teen sy tandvleis afgebreek en het veroorsaak dat sy ‘grootmenstande’ skeef groei.

“My kind word by die skool gespot, hy sukkel om te eet en hy sukkel om gewig op te tel. Hy kan nie vleis eet nie en ons moet dit vir hom fynmaak. Dis daarom dat ek besluit het om ’n post op Facebook te maak om vir hulp te vra,” het sy pa in ‘n vorige onderhoud aan FiND iT gesê.

Marius se eerste afspraak was op 11 Januarie en hy het Maandag sy eerste stel draadjies ontvang. Hy sou aanvanklik net tande gaan trek het om plek te maak in sy mond, maar toe besluit die tandarts om sommer sy draadjies ook in te sit. “Hy sê dit was glad nie so erg soos almal vir hom gesê het dit gaan wees nie!”

“Dis wonderlik om te weet daar is soveel dokters en tandartse wat my pragtige seun kan help. Marius is baie opgewonde, en so ook sy ouers. Dankie vir almal wat hom in liefde ondersteun,” sê Marius.

Marius se volgende afspraak is op 26 Februarie en so word sy behandeling deur die barmhartige Samaritaan voortgesit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: