April 18, 2021

Hoop vir Marius (14) vir ’n nuwe glimlag

BUFFELSPOORT – Die 14-jarige Marius Conradie van Buffelspoort het op die ouderdom van vier jaar sy twee voortandjies uitgeval. Sy voortande het teen sy tandvleis afgebreek en het veroorsaak dat sy ‘grootmenstande’ skeef groei.

Hy is die laaste nege jaar van sy lewe daagliks by die skool gespot en geterg oor sy tande en sy pa, Marius, het besluit om hom na Facebook te wend in ’n poging om hulp te kry om vir sy seun ’n nuwe glimlag te gee.

“Ons het hom by ’n tandarts gehad toe hy sewe jaar oud was. Die tandarts het vir ons gesê hy is te jonk om die hele prosedure deur te gaan en ons is aangeraai om hom in ’n latere stadium te bring.”

Marius vertel hoe hulle intussen alles verloor het en hulle spaargeld alles opgeraak het. “My kind word by die skool gespot, hy sukkel om te eet en hy sukkel om gewig op te tel. Hy kan nie vleis eet nie en ons moet dit vir hom fynmaak. Dis daarom dat ek besluit het om ’n post op Facebook te maak om vir hulp te vra.”

Marius het binne minder as 24 uur na sy aanvanklike plasing op Facebook ’n oproep van ’n dokter in Hartbeespoortdam, wat anoniem wil bly, gekry wat bereid is om Marius verniet met die prosedure te help. “Ek word nou steeds gebel deur mense wat hulp wil aanbied!”

“Die afspraak by die dokter is in Januarie. Ons sal dan kan vasstel presies wat die prosedure inhou en wat dit alles gaan kos. Ons het intussen ’n Facebook-blad vir Marius se vordering oopgemaak waar ons almal op hoogte sal hou van hoe dinge met hom gaan.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: