Verdagtes martel en probeer plaasvoorman glo verdrink

VRYSTAAT. – ’n Plaasvoorman (77) het ’n plaasaanval oorleef na hy glo met ‘n mes gesteek, aangerand, gemartel en in ‘n septiese tenk probeer verdrink is.

Vrystaat Landbou (VL) sê aanvallers het Sondagaand na bewering probeer om Simon Makhotha in ’n septiese tenk op die plaas in die Zastron-omgewing van die Vrystaat te verdrink.

Geslaan en vasgebind

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die plaasvoorman het geslaap toe die twee mans Sondag omstreeks 20:30 deur ’n oop deur die huis binnegegaan het. Volgens Mbambo is Makhotha geslaan en sy arms is vasgebind.

Mbambo sê die verdagtes kon glo nie die kluis in die hoofhuis oopmaak nie en hulle het ‘n sonpaneel, kombuisgereedskap en kruideniersware gesteel.

Probeer verdrink

Terwyl hulle hom glo in die rioolwater probeer verdrink het, het hulle hom met klippe gegooi. Die slagoffer het later daarin geslaag om hom los te maak en het hulp gaan soek. Hy is tans in die hospitaal.

Die gesteelde items is in ’n nabygeleë veld gevind. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *