PRETORIA. – ’n Man is doodgeskiet nadat hy glo ’n Porsche op die Ou Johannesburgweg, naby die Voortrekkermonument wou kaap.
Volgens Arrive Alive het ER24 die verdagte met skietwonde in ’n kritieke toestand in die pad gevind. Sy toestand het vinnig versleg en hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Kapt. Augustinah Selepe , polisiewoordvoerder, sê daar word beweer vyf verdagtes wat in ’n rooi Toyota-dubbelkajuit gery het, het die grys Porsche Cayenne van die pad af gedwing. Selepe sê die verdagtes het glo die bestuurder van die Porsche genader waarna hy sy vuurwapen uitgehaal het en een verdagte geskiet het. Die ander verdagtes het gevlug.
Die polisie ondersoek ’n saak van moord en poging tot kaping.



