Verpleërs neem glo kredietkaart van sterwende

Deel hierdie storie / Share this story

DURBAN. – Twee mansverpleërs, onderskeidelik 40 en 45, is in hegtenis geneem op aangeklga van bedrog en diefstal nadat ‘n sterwende besigheidsman se kredietkaart vermoedelik wederregtelik geneem is om goedere mee aan te koop. Een van die verdagtes is op ‘n CCT-kamera by ‘n winkel, waar hy aankope gedoen het, vasgelê.

Transaksies op die besigheidskaart

Die slagoffer se vennoot het gesien daar word transaksies op die besigheidskaart gedoen terwyl die man in die hospitaal was en selfs na hy gesterf het. Die polisie het ondersoek begin instel en in ’n verklaring aan Times Live gesê daar word beweer die pin-kode van die kaart was op die oorledene se selfoon gestoor. Die telefoon is glo later by ’n tweedehandse selfoonwinkel op Pointweg gevind.

Verlede al in hegtenis geneem

Die verdagtes het Woensdag in die Durban-landdroshof verskyn waar hul saak tot 22 Januarie vir ‘n borgtogaansoek uitgestel is. Hulle sal in aanhouding bly. Die polisie sê verder in die verklaring albei verdagtes is in die verlede al in hegtenis geneem.

Netcare se UMhlanga-hospitaal sê slegs een van die oortreders werk by die hospitaal. Die ander verdagte was glo ’n kontrakwerker by Netcare St Augustine-hospitaal.