Voor jy vir getroude mense vra wanneer hulle kinders kry, is daar ’n paar dinge wat jy eers moet oorweeg. Egpare kan besluit om aan te neem, nie self kinders te baar nie of daar kan ’n probleem soos onvrugbaarheid by een van hulle wees.
Voel dikwels waardeloos
Vrouens wat nie swanger kan of wil raak nie, voel dikwels waardeloos, skuldig of skaam. Nie alle vroue verstaan hoekom hierdie met hulle gebeur nie en ondersteuningsraamwerke is nie altyd vir hulle beskikbaar nie. Nie almal aanvaar dit indien ’n vrou besluit om nie kinders te hê nie en so ‘n vrou word gedruk om haar besluit te verander.
Volgens die VN-bevolkingsafdeling het die gemiddelde vrou tot die jaar 1965 meer as vyf kinders in haar leeftyd gebaar. Sedertdien het hulle ‘n verandering gesien – die getal het gehalveer. Wêreldwyd is die gemiddelde aantal kinders per vrou nou onder 2,5.
Onvrugbaarheid
Onvrugbaarheid beteken ’n vrou kan nie na een jaar se seksuele omgang swanger word nie (of ses maande as ‘n vrou ouer as 35 is). Vroue wat swanger kan raak, maar nie die swangerskap kan voltooi nie, kan ook as onvrugbaar beskryf word.
Onvrugbaarheid is nie net ’n probleem wat by vrouens voorkom nie. Ongeveer een derde van onvrugbaarheidsgevalle is aan die vrou toe te skryf. Nog ‘n derde van die gevalle is as gevolg van die man. Die ander gevalle word veroorsaak deur ‘n samestelling van manlike en vroulike probleme of deur onbekende probleme.
Sonder ondersteuning van geliefdes
Onvrugbaarheid by mans is as gevolg van lae spermproduksie, abnormale spermfunksie of verstopping wat die produksie van sperms inhibeer.
Om na ’n lang tydperk nie swanger te raak nie, kan teleurstellend en frustrerend wees, veral sonder ondersteuning van geliefdes. Dit kan lei tot depressie. Alhoewel baie mense met probleme wel swanger kan raak na behandeling, soos in vitro-bevrugting (IVF), kan angs en stres oor die uitkoms van die behandeling die geestesgesondheid van ‘n persoon beïnvloed.



