Mamma, ek wil ‘n troeteldier hê

Deel hierdie storie / Share this story

Meeste kinders bereik ’n ouderdom waarop hulle ’n troeteldier wil hê. Hierdie kan twee vrae by jou opwek. Aanneem of koop? Is my kind reg vir die verantwoordelikheid?

Almal weet diereskuilings loop oor van diere. Deur ’n dier aan te neem, gee jy daardie dier ’n tweede kans om te lewe.

Wees eers pleegouers

Indien jy dit oorweeg om vir jou kind ‘n troeteldier aan te neem, oorweeg die volgende:

  • Neem jou kind na ’n diereskuiling en laat hom met die diere speel. Kyk hoe die interaksie tussen jou kind en die diere is.
  • Oorweeg dit om eers pleegouers te wees. Om ’n pleegouer te wees, gee jou die kans om ’n dier in jou sorg te hê tot die dier nuwe eienaars kry.

Lewenslesse

Is my kind gereed om ‘n troeteldier te hê?

Troeteldiere leer kinders waardevolle lewenslesse soos verantwoordelikheid, vertroue, respek en geduld. Troeteldiere kan ’n groot deel van jou kind se lewe uitmaak.

Kinders wat alleen grootword, kan alleen voel. Troeteldiere, veral honde en katte, kan spanning, angs en depressie verminder, eensaamheid vergemaklik, oefening aanmoedig en selfs kardiovaskulêre gesondheid verbeter.

Viervoetkind

Om ’n troeteldier te hê, beteken nie net werk nie; dit leer jou kind vele lewenslesse en dien as ’n speelmaat.

Bepaal vooraf die reëls wat gevolg moet word wanneer jou kind die troeteldier kry. So sal jou kind presies weet wat van hom verwag word.

Voor jy jou oë uitvee, sal jy as ouer net so lief vir daardie viervoetkind wees.