President Cyril Ramaphosa het vanaand in sy toespraak gesê Suid-Afrika het meer as een miljoen bevestigde gevalle.
Vanaf Kersdag is daar al meer as 50 000 gevalle bevestig. Ramaphosa sê die getalle styg omdat mense voel hulle moet mense besoek en in groepe kuier. Regoor die wêreld word inperkings weer ingestel na die nuwe variant van die virus bevestig is. Die nuwe variant is meer aansteeklik.
Ramaphosa sê mense dra nie hulle maskers nie, was nie hulle hande nie en hou nie ’n veilige sosiale afstand nie. Die gebruik van alkohol by restaurante en tavernes lei daartoe dat mense nie die reëls in verband met die virus gehoorsaam nie.
Hospitale se ongevalle-afdelings loop oor met gevalle van skietwonde en ongelukke. ICU-beddens is reeds vol in verskeie hospitale. Meer mense gaan nou in Wes-Kaapse hospitale dood as tydens die eerste vlaag. Meer as 41 000 gesondheidswerkers is vanaf die begin van die pandemie met Covid-19 besmet.



