My hel as heroïenverslaafde prostituut

Foto's: Verskaf

“Die belangrikste deel van my verhaal is dat Jesus se liefde die rede is dat ek vandag hier is. Sy liefde het my hierdeur gedra. Hy was vir my as prostituut lief en nou as iemand wat vir Hom ook lief is.”

Emerald Trotta (30) was vir byna 15 jaar vasgevang in ‘n wêreld van drank, dwelms en prostitusie voordat sy in die tronk beland en toe rehabilitasie ontvang het.

“Ek het eintlik maar in Arkansas grootgeword,” vertel Trotta. Sy het ná haar ouers se egskeiding, toe sy agt jaar oud was, by haar biologiese pa gebly.

“My kinderjare was aaklig”

“My kinderjare was aaklig. Hy het my op elke moontlike manier mishandel. Tot hy in 2001 selfmoord gepleeg het.”

Trotta moes daarna by haar ma gaan bly. “My ma was ‘n dwelmverslaafde met ‘n aaklige smaak in mans. Kort voor lank was sy met my stiefpa getroud.” Trotta vertel hoe hy ook dwelms gebruik en haar ook mishandel het.

“Ek het nooit goed gedoen op skool nie. My lewe tuis was ‘n gemors. Ek was altyd ‘n rebelse kind, ek wou altyd rook en drink,” vertel sy. “Ek wou altyd ‘n manier hê om te ontsnap. Ek was 15 toe ek vir die eerste keer dronk geword het. Dit was vir my só lekker om te ontspan.”

Trotta het die skool op die ouderdom van 16 verlaat. “Dis toe dat my lewe éérs uitmekaar begin val het. Ek het vir ‘n paar jaar só met my lewe aangegaan. Ek het tik gebruik, gedrink, gerook en Xanax gesluk. Ek het altyd gesukkel om tik te los en het heeltyd weer begin.”

Sy het in dié tydperk twee seuns, een op die ouderdom van 19 en die ander op die ouderdom van 24, by twee mans gehad.

“Ek het alles verloor”

“Toe ek in 2017 weer tik begin gebruik het, het ek alles verloor. My werk, my kar, my huis, my kinders. Ek het vir ‘n jaar by ‘n kêrel gebly wat my ook mishandel het voordat ek uitgetrek het.”

En só het Trotta die laagste punt in haar lewe bereik. “Ek het aan heroïen verslaaf geraak. Ek het in motelkamers gebly en ek het my lyf verkoop om vir my verslawing te kon betaal. Daardie tyd was vir seker die laagste punt wat ek bereik het,” vertel sy.

Trotta is in hegtenis geneem toe sy in die besit van heroïen gevang is.

“As ek myself kon doodmaak, sou ek. Ek het só siek geword toe ek van die heroïen moes af, ek wou net doodgaan. Ek was honger, maar ek kon nie eet nie. Ek was moeg, maar ek kon nie slaap nie.”

“Rehabilitasie en my tannie Lulu”

“My tannie Lulu was die een persoon wat nooit opgegee het met my nie. Sy het my altyd probeer help en ek het geweet sy is lief vir my. Sy het vir my kom kuier toe ek in die tronk was en toe ek uiteindelik vrygelaat is om rehabilitasie te ondergaan, was sy die een wat my kom haal het.”

Trotta het vir sewe maande rehabilitasie ondergaan by ‘n sentrum Recovery Point Ministry in Arkansas. “Die direkteur daar is 1,4 m lank en het rooi hare, maar moenie haar onderskat nie,” lag Trotta. “Sy het ‘n groter hart as die maan en sy, saam met die program, het my ‘n manier gewys om die lewe te leef wat ek nie geweet het moontlik is nie.”

Ten spyte van Trotta se sukses by die rehabilitasiesentrum, het sy slegte nuus ontvang oor haar twee seuns. Sy vertel haar eie prokureur het haar aangeraai om eerder nie vir haar seuns in die hof te gaan baklei nie.

“Hy het gesê ek het te lank gewag. Ek het besluit om in elk geval te probeer, en kan jy glo, in Augustus verlede jaar het ek my twee kinders altwee teruggekry!”

Trotta het nou haar twee seuns, twee werke, en vertel opgewonde dat sy vir ‘n huislening goedgekeur is. “Een van hierdie dae is ons in ons eie huis!”

Dan raak Trotta vir ‘n oomblik ernstig. “Ek dink die belangrikste deel van my verhaal is dat Jesus my deurentyd liefgehad het. Dis Sy liefde wat my hierdeur gedra het. En as ek een ding kan sê vir enigiemand daar buite wat met verslawing sukkel, is dat ons dalk nie vir onsself lief is nie, maar dat ons Vader in die hemel vir ons lief is!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *