‘Dit voel ek lewe in iemand se skadu’

Deel hierdie storie / Share this story

Wanneer ons getroud is, word skoonouers deel van ons lewens. Dit kan of soos ’n tweede paar ouers in ons lewe voel of dit kan ons slapelose nagte gee. ’n Anonieme leser het hierdie storie oor haar en haar skoonouers ingestuur.

Begin die moeilikheid

“Ek probeer baie hard om met my skoonouers oor die weg te kom. Vir ’n tydjie gaan dit goed en dan is dit weer afdraand. Ek en my man is al ses jaar getroud en ons het twee kinders. Ek het ook ’n kind buite my huwelik en hulle het my in die begin baie daaroor veroordeel. Dit voel ek probeer altyd my beste, dan sê of doen ek net die verkeerde ding… Dan begin die moeilikheid weer.

“My man het my vertel van iemand in sy verlede van wie  sy ma baie gehou het. Sy het seker gehoop hulle twee gaan trou. Dit voel of ek permanent in iemand se skadu lewe.

Hoe meer foute maak ek

“My skoonouers kom kuier vir Kersfees en ek weet nie eers wat om voor te berei sonder om iets negatief te hoor nie. Dit voel somtyds ek kan net opgee. Dit voel hoe harder ek probeer hoe meer foute maak ek. Ek en my man was nog nooit ’n naweek alleen sonder ons kinders nie. Miskien is dit net die wegbreek wat ons kort om mekaar weer te vind.”

Indien jy ’n anonieme storie/ staaltjie oor ’n voorval tussen jou en jou skoonouers wil instuur, stuur dit na [email protected].