SMITHFIELD. – Die boervrou van Smithfield wat Maandagoggend buite haar plaashuis langs haar motor vermoor is, is as Poenkie Bisset (73) geïdentifiseer.
Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, was Arthur Bisset Maandagoggend met sy dagtake op die plaas Korhaanfontein besig. Toe hy om 11:30 na die plaashuis terugkeer, het hy op sy vrou langs haar motor afgekom.
Die huis was gesluit en sy het met die motor- en huissleutels in haar hande op haar maag gelê.
’n Verdagte (43) is volgens brig. Makhele Maandagaand in hegtenis geneem na hy in besit van Poenkie se besittings gevind is. Hy het haar oorbelle, trouring en geld gehad.
“Daar is ’n moontlikheid vir nog inhegtenisnames,” sê brig. Makhele. “Die ondersoek duur voort.”



