Om te oefen, is vir baie mense ’n straf. Hou jy van oefen? Hoekom is oefening so belangrik? Ek wil nie gewig verloor nie, so hoekom moet ek oefen?
Jy gaan gelukkiger voel
Oefening kan die produksie van die hormoon endorfien verhoog. Dié hormoon laat jou goed en gelukkiger voel. Jy sal meer positief dink en nie depressief voel nie. Mense wat angstig is, word aangemoedig om meer aktief te wees. Oefening laat ‘n angstige persoon op ander dinge fokus. Só fokus jy nie meer op jou vrese nie. Dit gaan nie oor die intensiteit van die oefening nie. Jy moet net jou hartklop opstoot en aktief bly.
Help met gewigsverlies
Meeste mense sal sê die hoofrede waarom hulle oefen, is om gewig te verloor. Deur aktief te wees, kan jy jou metaboliese tempo versnel. Dit sal maak dat jy gewig verloor. Baie mense dink hulle moet hulle kalorieë per dag beperk deur minder te eet. Hierdie medtode kan jou metaboliese tempo vertraag.
Help met beendigtheid
Hoe ouer mens raak, hoe minder word jou beendigtheid. Daarom is dit so gevaarlik vir ’n bejaarde om te val. As jy oefeninge deel van jou roetine maak, kan dit jou beendigtheid verbeter. Só kan osteopetrose verhoed word.
Meer energie
Jy sal hoor baie mense sê hulle het meer energie in die dag as hulle die oggend geoefen het. Oefening help mense wat aan ’n chroniese moegheidsindroom ly. Jy sal beter saans slaap en met meer energie in die oggend wakker word.
Jou vel lyk beter
Gereelde matige oefening kan jou liggaam se produksie van natuurlike antioksidante verhoog. Dit help om selle te beskerm. As jy oefen, klop jou hart vinniger en bloed pomp deur jou liggaam. Die bloedvloei stimuleer die velselle wat kan help om veroudering van die vel te vertraag.



