Deesdae is niemand nêrens meer veilig nie. Gevaar kan om elke hoek en draai wag. Daar is altyd ’n kans dat jy gevolg kan word deur mense wat jou skade wil berokken. As jy jouself in hierdie situasie bevind, is dit goed om ’n plan van aksie te hê.
Let op
- Mense wat jou skade wil berokken, reken daarop dat jy ‘n vasgestelde roetine het wat hulle maklik kan volg. Wyk jy van jou gereelde roetine af, maak jy jouself minder van ’n maklike teiken deur jou skedule minder voorspelbaar te maak.
- Moenie jou doen en late op sosiale media uitsaai nie. Skakel liggingsdienste uit wat aandui waar jy is. Iemand wat jou wil volg, sal hierdie inligting nagaan, sodat hulle jou bewegings kan bepaal.
Hoe weet jy of iemand jou volg?
Jy sal verbaas wees hoe maklik dit is om iemand te volg of op te spoor sonder dat hulle dit weet, aangesien die meeste mense nie aandag aan hul omgewing gee nie.
- Die eerste stap om uit te vind of jy gevolg word, is om te begin oplet wat rondom jou aangaan.
- Let na ongewone tekens op.
- Kyk iemand meer na jou as wat normaal is en maak ongewoon baie oogkontak met jou?
- Ry ’n motor wat jy nie ken nie, ’n paar keer verby jou huis?
- Het iemand wat jy nie ken nie by jou gunsteling-koffiewinkel opgedaag?
- Sien jy die persoon telkens op ‘n ander plek opduik?
- Vertrou jou sesde sintuig. Jy sal dikwels intuïtief weet wanneer iets verkeerd is.
Wat om te doen
Jy is seker dat jy gevolg word. Nou wat? As dit moontlik is, wil jy ’n konfrontasie vermy, wat volgens alle kenners van selfverdediging beter is as om onnodig in ’n gewelddadige ontmoeting te beland.
- Moenie huis toe gaan nie. Of jy nou stap of ry, moenie huis toe gaan nie. Dit is natuurlik om huis toe te wil gaan en die deure te sluit, maar as die persoon wat jou volg, nie weet waar jy woon nie, wil jy nie die inligting bekend maak deur hom daarheen te neem nie.
- Bly in die openbare, goed beligte en digbevolkte gebiede. Moet nêrens heen gaan wat jou in ’n onveilige situasie sal plaas nie.
- As jy in jou motor is, bly op hoofpaaie wat goed belig is en moenie op grondpaaie of in afgesonderde strate ry nie. As jy loop, bly in openbare ruimtes waar baie mense is.
- As dit lyk asof iemand jou in ’n winkel volg, moet jy ook nie na jou motor toe gaan nie; die persoon kan jou op die parkeerterrein oorval of jou na jou huis toe volg. As jy bedreig voel, bel die polisie. Of ry eenvoudig na jou plaaslike polisiekantoor en sê vir hulle dat jy glo jy word gevolg.
- Gee ’n beampte die inligting oor die motor wat jou volg, en laat hulle dit opvolg.
- As jy glo jy word gevolg deur iemand met ‘n slegte voorneme terwyl jy stap, bel die polisie en gee hulle ’n beskrywing van die persoon wat jou volg. Hou die polisie so lank as moontlik aan die lyn.
- As die persoon binne hoorafstand is, praat hard sodat hy of sy kan hoor wat jy sê.
- As daar ’n polisiekantoor in die omgewing is, gaan soontoe.



