Meer as 222 verdagtes is in hegtenis geneem en nege onwettige drankwinkels is toegemaak na die Gautengse polisie se Safer Festive Season-operasie van die naweek.
Brig. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, sê die drankwinkels het glo bygedra tot die ernstige en gewelddadige misdade in die provinsie.
Faith Mazibuko, LUR van Gautengse gemeenskapsveiligheid, het die operasie saam met die provinsiale polisiekommissaris en lt.-genl. Elias Mawela gelei.
“Gedurende padblokkades rondom Soshanguve is vier persone in hegtenis geneem na hulle onder die invloed van drank bestuur het,” sê brig. Makhubele. “Die polisie het ook ’n gesteelde motorvoertuig gevind. Verder het die spanne ’n gewilde drankwinkel in Rietgat toegemaak en sy eienaar in hegtenis geneem na hulle ondersoek gedui het dat daar drank ná die voorgeskrewe tyd verkoop is en daar ook nie by Covid-19-regulasies gehou is nie.”
“Die winkel was vol mense wat nie maskers gedra het of sosiale distansiëring gehandhaaf het nie.”
Vier ander drankwinkels is ook tydens die operasie toegemaak.
Intussen is meer as 1 000 verdagtes in Gauteng in hegtenis geneem. In die Tshwane-distrik alleen is 400 verdagtes vas vir ernstige en gewelddadige misdade. Die Wesrand-polisie het ’n totaal van 164 persone in hegtenis geneem.
Die verdagtes sal na verwagting in die verskeie landdroshowe verskyn.



