Boer vind sy vrou dood langs motor op plaas

Deel hierdie storie / Share this story

SMITHFIELD. – ’n Boer in die Vrystaat het Maandagoggend op sy vrou, dood langs haar voertuig, op hulle plaas afgekom.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die boer is om 07:30 uit om na die krale te gaan ná sy vrou vir hom gesê het sy gaan net die wasgoed klaarmaak.

“Toe die boer ongeveer 11:30 na die plaashuis teruggekeer het, het hy op sy vrou langs die motor afgekom,” sê brig. Makhele. “Die huis was gesluit en die motor- en huissleutels is by haar gevind.”

Sy het ’n wond agter haar kop gehad en die oorsaak van haar dood word nog ondersoek. “Dis nog te vroeg om te sê presies wat gebeur het. Die ondersoek duur voort.”