Monique (Nicqie) Robinson (34), ’n identiteitstileerder en sosialemedia-beïnvloeder van Kimberley in die Noord-Kaap is op 7 Desember 2020 as die nuwe SARIE-voorbladgesig van 2020 aangekondig.
Nicqie het in ’n vorige onderhoud met FiND iT gesê sy het ’n paar jaar gelede ook vir die SARIE-voorbladgesigwedstryd ingeskryf, maar niks het daarvan gekom nie. Hier gesels sy met ons oor haar reaksie en hoe dit voel om dié kompetisie te wen.
Wanneer het jy uitgevind jy het gewen?
“Die oomblik toe hulle dit Maandag aankondig. Ek het regtig nie verwag dat dit ek sou wees nie.”
Hoe het jy uitgevind?
“By die Gala-funksie gereël deur SARIE, geborg deur Isa Carstens en Inoar. Dit was by Gorgeous George in Kaapstad gehou.”
Wat was jou reaksie en hoe voel jy daaroor?
“Ek was vir ’n paar sekondes stom. Ek het vir ’n oomblik nie geweet wat ek nou moet doen nie. My hart het oorgeloop van dankbaarheid.”
Wat hou die wen alles vir jou in?
“Blootstelling, blootstelling, blootstelling. Ek is nou deel van SARIE se familie en dis ’n groot voorreg.”
Hoe wil jy ander inspireer?
“Deur jou te help om die beste jy te wees!”
Wat beplan jy in die toekoms?
“Vir nou, om die jaar af te sluit en tydens die vakansie behoorlik stil te word en dán sal ek beplan vir 2021.”
Woord vanaf SARIE
SARIE-redakteur, Michelle van Breda, sê: “2020 was inderdaad ’n jaar soos geen ander nie, ook vir tydskrifte, maar ons was vasberade om aan te gaan met die tiende jaar van SARIE-Voorbladgesig, ons grootste wedstryd. Dit kleiner te doen, maar stylvol.”
“Nicqie se wen spreek ook van vasberadenheid. Wanneer jy haar storie lees, sien jy sy ken swaarkry, maar sy het volgehou. Sy byt vas, gee nooit op nie – dít is wat ek die meeste van SA se vroue en spesifiek van SARIE-lesers bewonder.”
Jy kan Nicqie se vorige onderhoud met FiND iT hier lees.
Foto’s: Collected Pix




